William Humphreys-kunsgalery

Deel hierdie storie / Share this story

As jy van kuns hou, is die William Humphreys-kunsgalery in Kimberley die plek om te wees. Behalwe die tydelike en permanente kuns wat daar uitgestal word, is die galery ook ’n gesogte plek om kunsverwante geleenthede by te woon.

Geleë in Kimberley se burgersentrum by die Oppenheimer-tuine, word dit beskou as een van die beste kunsmuseums in Suid-Afrika.

Dit is ‘n nasionale erfenis-entiteit wat direk deur die regering befonds word. Besoekers sal verras wees oor die vrede en rustigheid wat die galery bied. Die ruim uitstalareas nooi jou uit om te vertoef en na te dink oor die kunswerke wat uitgestal word.

Die kunsversameling wissel van 17de-eeuse Nederlandse en Vlaamse Ou Meesters en Europese kunswerke tot kontemporêre Suid-Afrikaanse kunswerke van uitnemendheid in alle mediums. Tans versamel die kunsgalery Suid-Afrikaanse kunswerke.

Afgesien van sy primêre funksie as ‘n museum vir kuns, dien hierdie galery die gemeenskap as ‘n opvoedkundige en kulturele sentrum.

Hierdie museum is vernoem na die vernaamste skenker van die kunswerke in die museum. Dit vorm deel van die burgersentrum in Cullinansingel in Kimberley. Dit is op 5 Desember 1952 deur Harry Oppenheimer geopen en sedertdien is die museumgebou vergroot weens die toename in die versameling.