Mooie Dominique kry tweede prinses by Mej. Roosknoppie

Deel hierdie storie / Share this story

Dominique Maritz (4) is Vrydag as die tweede prinses by Mej. Roosknoppie in Bloemfontein gekroon.

Sy was een van die Top-10 finaliste uit 54 ander inskrywings wat deelgeneem het.

Die kompetisie is op Vrydag 12 November deur Loch Logan-waterfront en Bloemnuus aangebied. Olive-Ridge het as die borg tot die kompetisie toegetree.

Die finaliste, met hul feetjie-uitrustings wat hulle aan die begin van die kompetisie ontvang het, is een vir een op die verhoog geroep om verskillende vragies te beantwoord. Een van die vragies was: “Wat wil jy word as jy groot is?”

Dominique, wat in daardie stadium nie geweet het wat om te sê nie, het uit die ry geglip en haar mamma, Anushka Maritz, kom vra wat sy moet sê. “Ek het haar gevra: “Wat sal jy graag wil wees? En dadelik antwoord sy: “’n Prinses”. Hulle het toe nooit vir haar daai vragie gevra nie.”

Anushka vertel Dominique was baie opgewonde toe hulle haar naam roep. “Ek dink eintlik meer omdat sy geweet het sy gaan nog geskenke kry. Op daai oomblik het sy nog nie besef sy is in die top drie nie – eers later toe almal haar gelukwens, het sy begin verstaan sy het iets gewen.”

Dominique het weggestap met ‘n sash, ‘n blommekrans asook ‘n withasie-teddie. Sy het ook ‘n R4 000-geskenkbewys gekry van Olive-skool in Bloemfontein, ‘n R500-geskenkbewys vanaf Loch Logan-waterfront en ‘n R200-geskenkbewys vanaf Bloemnuus ook vir die Waterfront.

“Ons is so trots op ons dogtertjie. Nie net omdat sy as tweede prinses aangewys is nie, maar oor hoe sy opgetree het. Sy was so vol selfvertroue en trots en nie skaam nie. Wat niemand gesien het nie, is toe ek haar verduidelik sy het geldjies gewen en sy kan vir haar iets gaan koop, het sy gesê dat sy vir haar boetie, Johanlo (6) en Amoné (2) ook iets wil koop.”


Vir die kompetisie mag die meisies geen grimering gedra het nie, hul hare mag nie professioneel stileer gewees het nie en partytjierokke is nie toegelaat nie.

Die beoordelaars was op soek na ‘n natuurlike, spontane meisie om die titel van Mej. Roosknoppie 2021 te dra.