Christopher (Stoffie) Graham Watson (34), die man wat na bewering sy eks-meisie, Angie Angelique Fourie (27) Sondagaand, 7 November in haar woonstel vermoor het, het vandag op aanklag van moord in die Secunda-landdroshof verskyn.
Die saak is uitgestel tot 17 November. Watson is nie gevra om te pleit nie.
Watson word daarvan beskuldig dat hy Fourie in haar huis in die Terra Nova-kompleks vermoor het.
Haar buurman het dié aand gesien haar woonstel brand en het ondersoek gaan instel. Fourie is op die vloer met ‘n steekwond aan haar nek en merke op haar lyf gevind.
Watson en Fourie was glo in ‘n rusie betrokke voordat sy dood is. Hulle het ook ‘n dogtertjie (2 jaar en 11 maande), wie by Fourie gebly het.
Mike Bolhuis, privaat-ondersoeker, het vroeër aan FiND iT gesê Watson het hulle dogtertjie ongeveer 23:30 die betrokke Sondagaand by sy suster in Secunda afgelaai.
Watson het Dinsdagoggend na ‘n landwye soektog homself uit eie wil omstreeks 06:45 by Norkem Park-polisiekantoor aangemeld vir ondervraging.
Die dogtertjie is tans veilig by familielede.




