Baba Karien kort dringend ‘n wonderwerk

Deel hierdie storie / Share this story

Die sewe maande oue baba, Karien Swanepoel, benodig dringend ‘n beenmurgoorplanting.

Karien is met SCID (Severe Combined Immunodeficiency) gediagnoseer wat beteken dat sy geen immuunstelsel het nie.

Die Swanepoel-familie is desperaat op soek na enigiemand wat moontlik ‘n geskikte skenker kan wees en moedig mense aan om vandag nog by DKMS (German Bone Marrow Donor Centre) te registreer sodat hul pragtige babadogtertjie ‘n normale lewe te kan lei.

“Karien is so ‘n spesiale dogtertjie wat soveel lewens van soveel mense in ‘n baie kort tydjie aangeraak het. Om ‘n geskikte skenker vir haar te vind, sal ‘n ongelooflike seën wees, maar as iemand anders ‘n skenker vind deur hierdie proses sal dit net so wonderlik wees. Ons wil mense regtig aanmoedig om deel te word van die lewensreddende proses,” sê Natasja Swanepoel, Karien se ma.

Enigiemand wat gesond en tussen die ouderdom van 18 – 55 jaar oud is, kan registreer om ‘n skenker te word en iemand te help met ‘n lewensreddende oorplanting.

Met registrasie sal jy ‘n ‘n toets ontvang waar jy slegs ‘n mondmonster moet gee. Indien jy ‘n pasmaat is, sal daar dan ‘n bloedmonster geneem word en die nodige prosedure sal gevolg word. Volgens DKMS is hierdie proses soortgelyk aan bloedskenk en is dit nie meer nodig dat jou beenmurg soos in die verlede onttrek hoef te word nie. Die skenking is relatief pynloos.

Besoek gerus die webwerf om te registreer: https://dkms-africa.org/be-a-donor/.