Volgens inwoners van Centralstraat in Beaconsfield, word die pad net nie so herstel dat dit rybaar is nie.
Volgens Miané Schaaf, ’n inwoner van Kimberley wat elke dag hierdie pad moet ry om by die werk uit te kom, word die pad net nooit heeltemal herstel nie.
“Vroeër die jaar was een baan van die pad heeltemal opgegrawe en kon mens net een baan gebruik. Na ’n lang gesukkel is die baan hertel, maar steeds word die waterlekke en groot gate nie herstel nie.”
Die pad is volgens inwoners onrybaar en een sê hy het al een van sy motor se bande beskadig toe hy deur ’n gat gery het.
“Niemand gaan my voertuig se band betaal nie. Die munisipaliteit kan dan nie eers die pad herstel nie.”
Kimberley Online Co. het navraag by die Sol Plaatje-munisipaliteit gedoen en wag vir terugvoer.



