Jason Jonker (26) en Rochelle Drury Coetzer (24), die paartjie wat ‘n dag uit mekaar selfdood gepleeg het, se begrafnisreëlings is bekend.
Jonker, ‘n bouterreinbestuurder, en Drury, ‘n skoonheidsterapeut, was vir die afgelope twee jaar ‘n paartjie en het ook ‘n 11 maande oue babaseuntjie saam. Drury het ook ‘n driejarige seuntjie uit haar vorige huwelik. Albei kinders is op die oomblik in pleegsorg by Drury se ouers in Bloemfontein.
Jonker het homself op 1 November in sy woonstel op Griekwastad gehang. Rochelle het twee dae later ook selfdood gepleeg.
Inligting oor haar dood is nog onbekend.
Volgens Maureen Labuschagne, Jonker se ma, het Jonker die naweek by Drury en hul seuntjie in Bloemfontein gaan kuier.
“Soos ek verstaan, het Rochelle en Jason woorde gehad, waarna sy toe Potchefstroom toe is vir die naweek. Nadat sy Sondag weer terug was in Bloemfontein het hul egter weer vasgesit, waarna Jason toe gesê het dat hy eerder teruggaan Griekwastad toe om sy kop skoon te kry. Ek het nooit gedink die naweek sal die laaste keer wees dat ek my seun sal sien nie,” vertel ‘n gebroke Labuschagne aan FiND iT.
Medelye het die afgelope week op sosiale media vir die jong paartjie ingestroom.





