Cleo Smith se ontvoerder het ‘n liefde vir poppe

Deel hierdie storie / Share this story

Terence Kelly, die 36-jarige man wat daarvan beskuldig word dat hy die vierjarige kleuter, Cleo Smith op 16 Oktober uit ‘n kampterrein ontvoer het, toon volgens die Daily Mail vreemde gedrag en het ‘n liefde vir Bratz-poppe.

Een van die kamers in Kelly se huis is glo vol van dié gewilde poppe.

Gedurende ‘n perskonferensie het die Australiese polisie gesê dat hulle nie kommentaar wil lewer op ‘n vraag oor of dit die kamer is waar Cleo gevind is nie.

Dit is onduidelik of die poppe gebruik was om Cleo te lok. Die polisie het wel bevestig dat Cleo besig was om met speelgoed te speel toe sy 18 dae later gevind is. Die huis waar sy gevind is, is sleg ses minute van haar ouerhuis af.

Die deurbraak het gekom nadat die polisie ‘n wenk ontvang het dat Terry ongewone kos en doeke by ‘n plaaslike Woolworths gekoop het. Die bure was nie bewus daarvan dat enige kinders by hom woon nie. Volgens die Daily Mail het die bure die laaste paar dae interaksie met Terry gehad, onwetend dat Cleo in die huis was.

‘n Inwoner in die buurt, Pricilla Milly-Mily, het aan die polisie gesê dat Terry nooit enigiemand in die huis toegelaat het nie.

Terry is tans in aanhouding waar hy intussen van verskeie oortredings aangekla word, waaronder die gewelddadige verwydering van ‘n kind onder 16. Hy het nie Donderdag tydens sy eerste hofverskyning gepleit nie.

Die aanvanklike hofverskyning is ook vertraag nadat hy deur ‘n mede-gevangene in polisieaanhouding aangerand is. Hy is na die hospitaal geneem waar hy behandeling ontvang het.