‘n 36-jarige man het Donderdag in die landdroshof in Carnarvon in Wes-Australië verskyn vir die ontvoering van die vierjarige kleuter Cleo Smith.
Terence Darrell staan tereg op aanklag van ontvoering, berig ABC News.
Kaalvoet in die hof met twee polisielede weerskante van hom het Darrell geen geheim daarvan gemaak dat hy nie die media daar wil hê nie.
Hy het nie aansoek gedoen vir borgtog nie en bly in aanhouding tot sy volgende verskyning. Hy is intussen na ‘n hospitaal geneem nadat hy homself beseer het.
Cleo Smith is Dinsdag na 18 dae gevind nadat sy op 16 Oktober uit ‘n kampterrein ontvoer is. Die kampterrein is slegs 100 m vanaf Darrell se huis en ‘n paar kilometer van haar ouerhuis.
Volgens ABC News het Darrell se bure iets vermoed toe hy vroeër vandeesweek met doeke van die winkel af terugkeer.
Smith was besig om met speelgoed te speel toe sy ongedeerd in Darrell se huis gevind is.
Sers. Cameron Blaine sê hy is verstom oor hoe goed Smith by die nuwe omstandighede aangepas het en dat sy gelukkig en borrelend gelag het.
Smith sal intussen deur sielkundiges ondersoek word.
Darrell sal weer op 6 Desember in die hof verskyn.



