“Ek wens net my kind het met my gepraat,” sê ‘n gebroke Maureen Labuschagne, ma van Jason Jonker (26) wat op 1 November selfdood gepleeg het.
Jonker is Maandagoggend net na 06:45 in sy woonstel in Griekwastad deur sy werkkollegas gevind nadat hy nie opgedaag het vir werk nie en hulle bekommerd geraak het.
Rochelle Drury (24), sy meisie van twee jaar en ‘n skoonheidsterapeut in Bloemfontein, het twee dae later óók selfdood gepleeg.
Labuschagne sê sy het Sondagmiddag net na 17:00 nog met Jonker, ‘n bouterreinbestuurder by ‘n konstruksiemaatskappy, gepraat en niks vermoed nie.
Volgens Labuschagne het Jonker die naweek by Drury en hul seuntjie, *Pieter (11 maande) in Bloemfontein gekuier.
“Soos ek verstaan, het Rochelle en Jason woorde gehad, waarna sy toe Potchefstroom toe is vir die naweek. Nadat sy Sondag weer terug was in Bloemfontein het hul egter weer vasgesit, waarna Jason toe gesê het dat hy eerder teruggaan Griekwastad toe om sy kop skoon te kry. Ek het nooit gedink die naweek sal die laaste keer wees ek my seun sal sien nie.”
Labuschagne sê Jonker het die naweek geensins enige tekens gewys dat hy tot staat is tot so iets nie. “Ons het niks vermoed nie. Hy was die vriendelike kind wat ons ken. Dis die laaste ding wat ek verwag het.”
Pieter is tans in pleegsorg by Drury se ouers. Drury het nog ‘n seuntjie, *Samuel (3), saam met haar eks-man.
Volgens die nadoodse ondersoek het Jonker homself tussen 02:00 en 03:00 Maandagoggend in die woonstel se badkamer gehang. Jonker se huismaat en werkskollega was die laaste persoon met wie Jonker gepraat het nadat hy vir Jonker net voor 19:00 gebel het. Hy het hom ingelig dat hy eerder gaan oorslaap, omdat die vragmotor wat hy bestuur te stadig ry en hy te laat by die huis gaan kom.
“Wat het na 19:00 in my kind se kop en hart aangegaan? My kind het so ‘n groot impak op so baie mense se lewens gehad. Hy het altyd almal bo homself gestel. Tot met sy dood. Solank hy iemand anders kon help, was hy gelukkig. Hy was die beste pa waarvoor Dandre kon vra en ek sal seker maak sy seun weet watse goeie mens hy was.”
Jonker was ‘n orgaanskenker en sy beenmurg is vandag verwyder.
“My grootste wens is dat kinders ophou bang moet wees om met hul ouers of enigiemand anders oor hulle probleme te praat. Maak nie saak hoe erg dinge vir jou voel nie, daar is altyd ‘n uitweg! Jong paartjies moenie skaam wees om vir berading te gaan nie, die lewe is nie maklik nie.”
Medelye het die afgelope twee dae ingestroom op sosiale media vir die jong paartjie.
Jason se pa, Philip Jonker, het ‘n huldeblyk op Facebook oor sy seun geskryf dat Jason en Rochelle op ‘n beter plek is. “Reg langs onse God. Ons het nie die reg om hulle te haat of te verwyt oor wat tussen hulle gebeur het nie. Ons was nie daar nie. Ek vra julle bitter mooi, as jy nie respek het vir ons as ouers wat ons kinders verloor het nie, bly van Facebook af.”
Hy skryf verder hy wil nie sien hoe mense nie kan saam staan in ‘n moeilike tyd nie. “En ek gee nie om wie jy is of wat jy dink nie. Respekteer ons as die ouers van Jason en Rochelle en dink wat jy sê voor jy dit sê. Sterkte aan Rochelle se familie. My hart gaan oop vir julle, ek weet waardeur julle gaan.”
*Skuilname is vir die kinders gebruik.
Indien jy selfdood gedagtes het, kan jy Befrienders Bloemfontein 24 uur van die dag by 051 444 5000 kontak.



