Cleo Smith: Man gearresteer na kleuter in geslote huis gevind is

Deel hierdie storie / Share this story

“My naam is Cleo”

Die vierjarige Cleo Smith wat 18 dae gelede op ‘n kampterrein in Wes-Australië ontvoer is, is gevind, berig BBC News.

“My naam is Cleo,” was die kleuter se eerste woorde aan die polisiebeampte toe sy Woensdag 01:00 (Australiese tyd) in die vroeë oggendure ongedeerd in ‘n geslote huis gevind is.

‘n 36-jarige man, wat geen verbintenis met die kleuter se gesin het nie, word vir ondervraging aangehou.

Cleo het op 16 Oktober uit haar gesin se tent by die Blowholes-kampterrein verdwyn.

Volgens die Wes-Australiese polisie is sy alleen in die huis op die kusdorpie, Carnarvon, gevind.

Adjunk-kommissaris Col Blanch sê “gesoute speurders het openlik van verligting gehuil”.

“Dit wat hier gebeur het, sien ons nie sommer nie. Almal het hoop in hul harte gehad en dit het waar geword,” sê Blanch.

“Ons familie is weer heel,” het die kleuter se ma, Ellie Smith, op sosiale media geskryf nadat klein Cleo met haar familie herenig is.

Smith het die betrokke dag van haar verdwyning om 06:00 wakker geword toe sy opmerk dat Cleo weg is. Haar slaapsak was ook weg en die ritssluiter van die tent was heeltemal oop.

Cleo en haar ma, Ellie, voor haar verdwyning.

Die soektog na Cleo het wêreldwyd opslae gemaak met ‘n beloning van $1 miljoen (byna 11 miljoen rand) wat gedurende die soektog aangebied was vir inligting wat kon lei tot die opsporing van die kleuter.