Uyleta maak die Rosestad trots as Mev. Heelal-finalis

Deel hierdie storie / Share this story

Uyleta Nel-Marais (31) gesels met Bloemfontein Online Co. oor hoe dit voel om ‘n top 7-finalis van Mev. Heelal te wees, wat dit vir haar beteken om ‘n verskil te maak en hoe sy nie in haar wildste drome kon dink dat sy vandag hier sou wees nie.

Uyleta, wat al vir 12 jaar in Bloemfontein woon, is met Stephan Marais (34) getroud.

“Dit voel absoluut wonderlik,” beskryf Uyleta die gevoel om te weet dat sy een van die top 7-finaliste is. “Ek het hard gewerk hiervoor. Om die top 7 te haal, bewys weereens jy hoef nie in in boksie te leef nie!”

Wanneer Uyleta nie haar lyf model hou nie, is sy ook ‘n prokureur en direkteur by Lovius Block in Bloemfontein.

Uyleta het op 23 Oktober die wonderlike nuus gekry dat sy in die top 7 is. Dit is die eerste maal wat sy aan ‘n skoonheidskompetisie deelgeneem het, maar sy het ook in Februarie 2020 by die New York Fashion Week geloop en was ook ‘n Top Model Suid-Afrika-finalis.

“Wat ek bereik het in my lewe, oortref my wildste drome en ek is so dankbaar daarvoor!”

Uyleta vertel haar fokus in die laaste tyd voor Mev. Heelal in Februarie volgende jaar aangekondig gaan word, sal wees op haar inisiatief teen geslagsgeweld. Haar tema is: “One Nation: Our Women and Children”.

“Ek wil dié inisiatief opbou en laat groei om soveel mense moontlik te kan help.”

Uyleta se boodskap aan ander vroue of jong dames, is om goedgesind te wees en gefokus te bly.

“‘Always be kind. Die wêreld is joune. Jy kan alles en meer wees, bly net gefokus.”