Nog ‘n groot trok ry van die pad af

Deel hierdie storie / Share this story

“Skielik het ek ‘n groot voorwerp, wat soos ‘n boks gelyk het, voor my gesien.”

Nuwe inligting het na vore gekom nadat ‘n trok onlangs van ‘n besige pad gery het.

Die ongeluk het  Donderdag op die N7-snelweg buitekant Springbok gebeur. Die leë vragmotor was op pad na die Wes-Kaap.

Ingeligtes het vertel dat die vragmotor van die maatskappy Fysal Fresh Fruit vanuit Namibië afkomstig was. Volgens die polisie was dit sonder ‘n vrag, maar niemand het probeer om dit te beroof of aftakel (strip) nie.

Reuse hyskraan lig die trok op na
‘n ongeluk op die N7, buitekant Springbok. Foto: Isaac Cloete.

Polisie-woordvoerder, kapt. Olebogeng Tawana, het gesê ‘n klag van roekelose en nalatige bestuur word teen die bestuurder wat alleen in die trok was, ondersoek.

Toe FiND iT op die toneel kom, het die bestuurder geskok voor die trok gesit. Hy kon nie rêrig vertel wat gebeur het nie. Baie glo dat hy moeg, vaak en oorwerk was. Hiervoor word groot maatskappye, wat glo net uit op winsbejag is, blameer.

Dit het intussen aan die lig gekom dat ‘n taxi met werkers gelukkig was om nie deel van die ongeluk te wees nie. Hulle was vermoedelik naby die ongelukstoneel.

Ralph Young van Nababeep het ook hierdie week vertel wat hy weet. Hy was  laas Donderdag half laat, daarom moes hy baie vinnig op dié pad ry om iemand naby Springbok te gaan oplaai. Hy het gesê: “Skielik het ek ‘n groot voorwerp voor my gesien wat soos ‘n boks gelyk het. Toe ek wegswenk, het my kar effens gegly, Daar was stukkies tyre op die pad, dus het ek besef dat dit ‘n ongeluk was wat pas gebeur het.”

Volgens hom het hy uit sy voertuig gespring en iemand gesien wat van binne af teen die windskerm van die trok gekap het. Hy het die persoon gevra om plat te lê en toe die windskerm uitgetrap totdat dit gebreek  het.

Hierna het hy die bestuurder uit die trok gehelp. Die polisie en ander mense het hierna opgedaag. Hy het ten slotte gesê: “Dankie Hemelse Vader dat ek verslaap het en die eerste een was wat hom kon help. Ek is ook bly dat hy ongedeerd is.”

Dieselfde namiddag het ‘n reuse hyskraan van ‘n plaaslike onderneming die trok opgelig en laat verwyder. Oor hulle kundige en knap opruimingswerk was die inwoners van Springbok baie beïndruk.