Nuwe party vir ‘diggers’ ploeg vroeg terug in die gemeenskap

Deel hierdie storie / Share this story

Al die derduisende rande kom van die goedhartige mense van die Forever Diamonds & Gold- (FDG) maatskappy.

Die National Economic Fighters het nie vergeet nie dat hulle gemeenskappe ook hulp nodig het.

Dit is waarom hulle die afgelope paar weke aan verskeie arm gemeenskappe in Namakwaland duisende rande se items uitgedeel het.

Dit sluit in besoeke aan skole in die Kamiesberg- munisipale gebied. Dorpe soos Kamieskroon, Kharkams, Garies en Leliefontein is die week besoek. By hoërskole op Garies en Kharkams het die sowat 100 matrikulante uit die bloute geskenkpakkies ontvang.

Die meisies se pakkies het onder andere ‘n waslappie, sanitêre doekies en saniteringsmiddels ingesluit. Die seuns s’n het bestaan uit ‘n waslappie, waterbottel en het ook saniteringsmiddels.

Die sowat 140 laerskoolleerders van Kamieskroon is bederf met pennestelletjies. Hierdie welkome geskenkpakkies was ‘n paar duisend rand werd volgens die organiseerders van die skenkings.

By die Laerskool JJ Lambert op Garies is vertel dat die gr. R- & 7-leerders baie in hul skik was met die pennestelletjies. Blykbaar was dit ook die eerste keer dat instansies of partye sulke geskenke aan die leerders gegee het.

Intussen is ander twee dorpies, Komaggas en Kleinsee, in die Nama Khoi-gebied, ook besoek om die wykskandidaat, Josef Cloete, bekend te stel. Hier is geskenke en kos ook aan behoeftige mense uitgedeel.

Saterdag 24 Oktober gaan die NEF hul derde en laaste loodsing in Port Nolloth, hoofdorp van die Richtersveld, hou. Die vorige twee is op Hondeklipbaai en Sanddrift gehou.

Volgens Helena Schulenburg, organiseerder van die skoolbesoeke, gaan dit sommer ‘n groot bash wees waar musiek, kos, drinkgoed en kindervermaak die hoofdisse gaan wees.

Die loodsing word langs die strand naby die dorp se sakekern gehou en daar gaan selfs vlugbal gespeel word. Vir die kleinspan sal daar ‘n groot springkasteel wees. Om alles te kroon, sal ‘n gesigverfsessie ook plaasvind. Alles mahala en verniet.    

Die span beoog om volgende week, net voor die verkiesing, die KhaiMa-gebied te besoek. Hier gaan hulle by dorpies soo, Aggeneys, Pofadder en Pella aandoen. Met die hulp van drie NEF-wykskandidate, Kevin Waterboer, Jeff  Thomas en Mildred Freeman, gaan dieselfde seëninge  aan die inwoners hier uitgedeel word.

‘n Inwoner van Garies het anoniem saamgestem dat ander politieke partye nog nie dit wat die NEF onlangs hier vir die inwoners kom wys het, gedoen het nie.

Die span van FDG het selfs ‘n draai gaan maak by Nuttabooi, naby Komaggas, waar die onlangse mynramp gebeur het. Hier het hulle die geaffekteerde families van vermiste delwers gaan ondersteun en kos verskaf.

Al die derduisende rande kom van die goedhartige mense van die Forever Diamond & Gold maatskappy (FDG). Chris Schulenburg en Eitel Schulenburg asook Anita Claase, is die harde werkers in hierdie span.

Dawid Markus, leier van die NEF, was tevrede met dit wat die party sover in die gemeenskappe terugggeploeg het. Hy glo dit sal op 1 November goeie vrugte by die stembus afwerp.

Geskenkpakkies word aan leerders by Garies-skole uitgedeel