Seksslaaf-verdagte se saak weer uitgestel

Deel hierdie storie / Share this story

‘n 37-jarige dame se prostitusie-saak is weer Vrydag in die hooggeregshof in Kaapstad uitgestel.

Leandra Williams, oorspronklik van Springbok, word daarvan beskuldig dat sy by mensehandel betrokke was.

Die saak kom al sedert April 2017 aan

Volgens die staat het Williams, haar Kongolese man, Edward Ayuk en haar swaer, Yannick Ayuk, ‘n soort bordeel in Milnerton, Kaapstad bedryf. Edward en Yannick is broers.

Hulle staan tans tereg op onder meer aanklagtes van ontvoering, mensehandel en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Meisies van die Springbok-area (en ook Oos-Londen) is gedurende 2015 onder die valse voorwendsel van werk na Kaapstad gelok. Hierna moes hulle hulle liggame verkoop en die geld aan Edward en Yannick gee. Hulle is ook geforseer om dwelms te gebruik.

Volgens die Valke op Springbok kom die saak al ‘n geruime tyd aan, nadat meisies in April 2017 sake op Springbok teen Williams gemaak het.

Die ondersoekbeampte van die Valke het gesê:

“Drie van die meisies is van Matjieskloof, buitekant Springbok, een van Okiep (Skietbank) en die vyfde waarskynlik van Steinkopf of Komaggas afkomstig.

Hulle bly anoniem en sal teen die drie beskuldigdes gaan getuig.”

Van die meisies wat weggekom of gevlug het, was verwagtend en die vermoede bestaan dat van hulle seksueel-oordraagbare siektes opgedoen het weens seks met verskillende mans, volgens die Valke.

Williams het tydens haar vorige verskyning op 13 Oktober aangedui dat sy onskuldig op die aanklagte gaan pleit. Sy is tans uit op borgtog van R3 000.

Omdat die regter wat die saak aanvanklik sou aanhoor aan die einde van Oktober aftree, sal ‘n nuwe een aangestel moet word. Die saak sal nou tussen 4 November en 10 Desember afgehandel moet word.