Namakwalandse inwoners stort steeds trane oor mynramp

Deel hierdie storie / Share this story

Terwyl inwoners in Namakwaland in trane bly oor ‘n mynramp, is daar met ‘n reddingspoging begin.

Die ramp het Woensdag by die Nuttaboy-myn, naby Komaggas, gebeur. Volgens aanduidings is verskeie delwers sonder permitte daar vasgekeer of gedood.

Steeds vasgekeer

Die twee munisipaliteite op Springbok, die Namakwa-distiksmunisipaliteit en Nama Khoi-munisipaliteit, het Donderdag ‘n persverklaring hieroor uitgereik. Hulle het eerstens aangedui dat hulle nie kan bevestig hoeveel mense moontlik dood is of nog steeds vasgekeer is nie.

Luidens die verklaring het hulle verder onderneem om met ‘n moontlike reddingspoging te begin. Die verklaring lui verder so:

“Nadat daar met verskeie rolspelers beraadslaag was, is besluit om dieselfde reddingspan te gebruik wat betrokke was by die Bontekoe-mynramp nege jaar gelede. Bontekoe is in dieselfde area as die Nuttaboy-myn.”

In Mei 2012 is ongeveer 26 delwers toegeval. Hierdie reddingspan kon later 10 liggame na die oppervlakte bring.

Hieroor het kapt Paulus Swartbooi van die Nama’s gesê:

“Steeds is daar onbeantwoorde vrae oor die Bontekoe-ramp. Mense worstel steeds met daardie pyn. Was dit werklik hulle geliefdes wat hulle begrawe het? Die families het net liggame gekry om te begrawe en dit was verkeerd.”

Volgens hom hang die trauma van Bontekoe nog steeds in die lug. Dit het nou weer lewendig geword na die mynramp by Nuttaboy.

Intussen het die leier van die Patriotic Alliance (PA), Gayton Mckenzie, op Springbok na die Nuttaboy-myn voorval verwys.

Hy het gesê dat die PA die delwers bymekaar gaan bring sodat planne beraam kan word hoe die myne beveilig kan word.

“As ons aan bewind kom, sal ons ook die mynbou in Namakwaland stabiliseer sodat werk geskep kan word. Namakwaland is van die rykste mynbou-areas, maar dit het van die armste mense.”

*Plaaslike inwoners wat navrae het oor hul delwers wat moontlik nog in die tonnels is, kan met Dereck Cloete by die Nama Khoi-munisipaliteit skakel. Die nr. is: 027 7188100.