Party vir ‘diggers’ stoom steeds met mening voort

Deel hierdie storie / Share this story

Die nuwe politieke party vir diggers stoom steeds voort na nog ‘n suksesvolle partybekendstelling.

“Die witman is nie rêrig ons vyand nie, maar wel die regering, wat ons seermaak. Daarom moet ons hulle uitstem.”

Die afgelope naweek het hulle hul tweede bekendstelling by Sanddrift, in die Richtersveld, gehou.

Hier het Dawid “Taffa” Markus, die stigter en president van die National Economic Fighters (NEF), ook genoem  die Diggers-party, se beleid, manifes en planne uitgestippel.

Hy het gesê: “As ons praat van ons ryk mineralerykdom op ons grond, maar ons is bedelaars en sukkelaars, dan is daar iewers ‘n groot fout. Waar is die beter lewe dan vir almal?”

Hy het voortgegaan en gesê dat die skille van die oë van die gemeenskappe moet afval, want die land behoort aan die oorspronklike mense, die Nama-mense.

Volgens hom is almal medepligtig as hulle verkeerd stem. Dit beteken verkeerd stem vir die ANC. Hy het versoek dat die Nama-mense die NEF moet help om hulle land terug te vat. Die land met die baie en ryk diamante.

Hy het verder gesê: “Ons moet die wette van die land en munisipaliteite verander. Die witman is nie rêrig ons vyand nie, maar wel die regering, wat ons seermaak. Daarom moet ons hulle uitstem.”

Antie Gladys van dié dorpie het gepleit dat die NEF hulle ‘n plan moet gee sodat daar kos op die tafel kan kom. Volgens haar stap sy saam met die Diggers-party (NEF) en hulle verkiesingskandidaat.

Magrietha “Koekie” Stoffels het versoek dat elkeen ‘n geleentheid in hierdie land moet kry.

By dieselfde geleentheid het die sekretaris-generaal, Andre Crew, daarop gehamer dat hulle Namas “alles het, maar tog niks besit nie.”

“Ons moet steeds soebat vir die rykdom wat op ons grond is. Ons gaan  staan en baklei vir julle. Ons gaan ons grond terugvat.”

Markus, ‘n parapleeg, het die party ‘n paar maande gelede gestig. Hulle gaan voorlopig slegs in vier van die ses gebiede binne die Namakwa-distrik aan die verkiesing op 1 November deelneem. Dit sluit die Kamiesberg-, Nama Khoi-, Richtersveld en KhaiMa-munisipaliteite in.