December 3, 2021

33 kg ligter in sewe maande

As ’n polisiekaptein, woon sy al vir 29 jaar in Bloemfontein saam met haar viervoetige kinders.

33 kg ligter in sewe maande

33 kg ligter in sewe maande

Madelaine Christou (54) sê sy was moedeloos nadat sy alle produkte op die mark probeer het om gewig te verloor.

As ’n polisiekaptein woon sy al vir 29 jaar in Bloemfontein saam met haar viervoetige kinders.

“My hele lewe lank was ek oorgewig en het al alle produkte op die mark gebruik. Soms het ek wel ’n paar kilogramme afgeskud en dan maar net weer opgetel. In Julie 2020 het ek op Facebook gesien hulle komplimenteer ’n dame met haar gewigsverlies en soos die natuurlike giere is van ’n vrou, het ek begin rondkrap op haar Facebook-blad.”

Madelaine vertel dit is toe wat sy op ’n Christelike gewigsverliesprogram, Koebaai Vetnoi, afgekom het.

“Ek was toe amper 53 jaar oud en het die seldsame skildklierprobleem van die skildklier wat ooraktief is, maar wat onderaktief werk. Ek het besluit kom ek vind meer uit oor wat behels die program, ek gaan vir ’n laaste keer iets in my lewe probeer. Ek raak oud en het nie meer lus en krag vir sukkel om gewig te verloor nie.”

Madeleine het toe kontak gemaak met die dame, wat in daardie stadium reeds 70 kg verloor het.

“My brein het dadelik oortyd begin werk en gedink as sy dit kan doen, dan kan ek ook. Ek het na ander se getuienisse van gewigsverlies gekyk en besluit toe om aan te sluit.”

Sy het daarna ’n eetprogram en ’n Bybelstudieprogram ontvang.

“Ek kon nie die verband verstaan tussen Bybelstudie en die nommer op die skaal nie! Ek was vasbeslote om gewig te verloor en vir myself gesê basta met hulle Bybelstudie, my kerkoriëntering is my eie saak.”

Madelaine sê dit was aan die begin van die Covid-tydperk en sy het verskeie mense op Facebook gesien kla oor hoe hulle nou by die huis sit en “dik” word.

“Op 10 Augustus 2020 het ek met die eetplan begin en teen einde Augustus 2020 het ek 8.5 kg verloor. Ek was absoluut in ekstase, want dis die eerste keer dat ek positief gebly het vir twee weke en het nie moeg geraak vir die kosse om te eet nie.”

“Die program het ’n Telegram-geselsgroep gehad en elke dag het daar ondersteunende boodskappies deurgekom en die tipe boodskappe het my kriewelrig laat voel, want dit klink so lekker om na aan God te kan leef en ek weet ek is nie waar hulle is nie.”

“Een aand besluit ek kom ek kyk wat aangaan in die Bybelstudie-gedeelte. Ek het besef my lewe is so gejaagd en dat ek nie altyd tyd maak vir God in my lewe nie. Ek het ‘n Bybelvers raak gelees – Kolossense 3:23-24 ‘Pak alles gemotiveerd aan. Werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie. Weet dat die Here julle met n erfdeel sal beloon. Die eienaar vir wie julle werk, is Christus.”

“Ek het besef dat my vordering in daardie stadium te danke is aan die Here wat my die krag gegee het om te kan volhou met wat ek besig was om te doen. Ek het soveel nader aan die Here beweeg om deel te word van hierdie program en sal ewig dankbaar wees.”

“Ek was op my eie in my familiehuishouding en het die keuse gemaak dat ek hierdie vir myself gaan doen. Ek het my wapenrusting aangetrek en het volhard.”

“Einde November 2020 het ek my eerste 20 kg verloor en was ook glad nie aktief om enige oefeninge te doen nie. Eerstens omdat ek te lui was en tweedens omdat ons in ‘lockdown’ was en nie buite jou erf kon wees nie. Wat ‘n lekker verskoning!”

“Ek is die Kers- en Nuwejaar-seisoen van lekker eet en drink deur sonder dat dit my enigsins gepla het om al die lekkernye te moet eet in daardie tyd. Abba Vader het my gedra as ek oomblikke wou swig.”

“Sedert Maart tot en met vandag handhaaf ek my gewig en dit bly af. Ek is tevrede met myself en wil net nooit ooit weer op my paadjie terugstap nie – die ongemak wat jy voel tussen kleiner mense, die gesukkel om mooi klere te kan kry in winkels.”

Madelaine het altesaam 33 kg in sewe maande verloor en sê haar selfvertroue het die hoogte ingeskiet. Sy doen ook nou drie keer per week Zumba.

“Ons het baie vrouens wat iewers seergekry het in hul lewens wat veroorsaak dat hul emosionele eters is en drange het om heeldag te peusel. Kos het nie meer ‘n houvas op my lewe nie, God het! My geloof is sterker, want ek het geleer die nommer op die skaal bepaal nie jou selfwaarde nie. Ek is ongelooflik gelukkig en trots op myself.”

“Probeer eers die onderliggende probleem vind hoekom jy oorgewig is. Daar is geen ‘quick fix’ in die lewe nie. Om ‘shakes’ druppels en pille te drink, mag werk vir ’n rukkie, maar dit help jou nie om die gewig af te hou en ’n gesonde lewenswyse aan te kweek nie.”

“Daar is baie faktore wat bydra tot oorgewig wees, breinspoeling en emosies. Baie dames is deur verkragtings, molestering, siektes, geliefdes aan die dood afgestaan, enige PTSD-faktore wat bydra. Jy moet eers die negatiewe uitwerk en begrawe sodat jy emosioneel kan gesond word. Dit is waar ek vandag is. Ek het deur al my emosies gewerk en nader aan God beweeg en kan net vandag skree Hallelujah, prys die Heer, want Hy was en is goed vir my.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *