Die Viljoens – herwinning vir ’n lewe

Deel hierdie storie / Share this story

Gawie Viljoen (54) en sy naamgenoot (27), eienaars van Waste Warriors in Kimberley, maak ’n bestaan uit herwinbare produkte.

Gawie Jr. vertel sy pa het Waste Warriors in 2003 begin en hy wat Gawie is, het naweke en skoolvakansies daar gaan werk. Hy het in 2010 voltyds saam met sy pa begin werk en vandaar het die besigheid net gegroei.

Gawie is al vir vyf jaar met sy vrou, Chantal, getroud en die paartjie het ’n seuntjie. As gebore Kimberliet het hy sy skoolloopbaan by Elizabeth Conradie klaargemaak.

“Ons doen herwinning van alle herwinbare produkte. Ons tel goedere in die strate sowel as by besighede op. Ons probeer ’n verskil maak om die strate skoon te hou en ook te keer dat minder herwinbare goedere op die plaaslike stortingsterrein beland.”

Gawie vertel ook hulle het ’n wonderlike span toegewyde werkers wat die proses ’n groot sukses maak.

“Ek geniet dit vreeslik om in die oggend by die werk op te daag en te weet ek het ’n span toegewyde werkers. Ons werk saam as een span. Ek geniet dit ook om die verskeie herwinbare produkte te sien en veral om te sien wat alles uit herwinbare produkte gemaak kan word.”

Hy sê dit is egter vir hom baie hartseer om te sien hoe daar in die strate en in die veld gemors word.

“Dis vir my lekker om te doen wat ek doen en die feit dat ek dit saam my pa kan doen, is ’n voorreg en baie spesiaal. Die ondersteuning van my en my pa se gesinne dra ook baie by tot ons sukses en daarvoor is ons baie dankbaar.”

Gawie bou ook in sy vrye tyd en naweke outydse voertuie.  

“Dit is lekker om te sien hoe daar iets moois uit gemors uit kan kom. Soos die Engelse spreekwoord lui: ‘One man’s trash is another man’s treasure.’”