September 23, 2021

SA op vlak twee van inperking

Dié maatreëls sal oor twee weke hersien word.

Foto: SEIFSA

Foto: SEIFSA

Suid-Afrika sal van Maandag af op vlak twee van inperking wees en daar word veranderinge aangebring aan die aandklokreël, tye vir alkoholverkope, die hoeveelheid mense wat by byeenkomste toegelaat mag word en ook toemaaktye vir nie-essensiele besighede.

Só het president Cyril Ramaphosa Sondagaand in sy toespraak aan Suid-Afrika gesê.

Verder het Ramaphosa gesê meer as 7 miljoen mense in SA is reeds ten volle teen die virus ingeënt. Meer as 14 miljoen dosisse van die inenting is reeds gedien.

Ramaphosa sê die beskikbaarheid van die entstof is nie meer ‘n probleem in SA nie.

“Alhoewel enigeen ouer as 18 jaar nou die inenting mag ontvang, is ons fokus op diegene wat ouer as 60 is en onderliggende gesondheidsprobleme het.”

“Dis belangrik dat mense weet die inenting is veilig en verniet.”

Wat jy moet weet van vlak twee:

Alkoholverkope sal van 10:00 tot 18:00 van Maandae tot Vrydae toegelaat word. Drank vir gebruik op ‘n perseel kan tot 22:00 verkoop word, onderhewig aan lisensievoorwaardes.

Die aandklokreël sal van 23:00 tot 04:00 ingestel wees.

Byeenkomste van meer as 250 persone binnenshuis en 500 buite sal nie toegelaat word nie. In kleiner venues mag nie meer as 50% van die beskikbare spasie beset word nie.

Nie-essensiële besighede soos restaurante, kroeë en gimnasiums moet 22:00 toemaak sodat personeel voor die aanvang van die aandklokreël by hulle huise kan wees.

Byeenkomste ná begrafnisse sal nie toegelaat word nie. Slegs 50 persone word by ‘n begrafnis toegelaat.

Die dra van ‘n masker in openbare ruimtes is steeds verpligtend.

Dié maatreëls sal oor twee weke hersien word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *