Marlene Schoeman, kookboekskrywer in die Vrystaat, deel met ons haar resep vir heerlike koekstokkies.
Maak 60 koekballetjies
Koekballetjies
Bestanddele:
250 g sagte margarien
500 mℓ (2 k) strooisuiker
4 groot eiers
125 mℓ (½ k) melk
750 mℓ (3 k) koekmeel
20 mℓ (4 t) bakpoeier
5 mℓ (1 t) sout
75 mℓ (3 e) kakao
125 mℓ (½ k) warm water
10 mℓ (2 t) karamelgeursel
500 g wit baksjokolade
Botterversiersel
125 g margarien
500 g versiersuiker
5 mℓ (1 t) karamelgeursel
30 mℓ (2 e) kakao
10 mℓ (2 t) koffiepoeier
Metode:
- Verroom die margarien en strooisuiker: voeg die eiers by en klits. Voeg die melk by en klits.
- Sif die meel, bakpoeier en sout saam en voeg dit by die eiermengsel. Meng die kakao en warm water en roer dit by. Voeg ook die geursel by.
- Gooi die beslag in ’n gesmeerde oondpan en bak dit ongeveer 40 minute lank by 180 grade C. Toets vir gaarheid. Laat die koek heeltemal afkoel.
Vorm die stokkies so:
- Maak botterversiersel.
- Krummel die koek in ’n groot mengbak. Voeg botterversiersel lepelsgewys by terwyl jy dit met jou hande meng tot jy balletjies kan vorm. Vorm gholfbalgrootte koekballetjies en pak dit op ’n skinkbord of pan.
- Smelt ’n stuk baksjokolade in ’n koppie in die mikrogolfoond. Druk elke houtstokkie se punt in die sjokolade en druk dit dan in die koekballetjie. Die sjokolade help dat die stokkie in die koek bly, anders val dit uit.
- Laat die koekballetjies ongeveer 15 minute in die vrieskas staan sodat dit kan ferm word.
- Smelt nog sjokolade en druk die koekballetjies een vir een daarin. Laat die oortollige sjokolade eers afdrup en druk die stokkies regop in polistireen om te stol. Plaas die koekstokkies in die yskas om hard te word.



