September 23, 2021

Broer en suster se talente saam is ‘n suksesresep

Saam is die broer en suster se talente die perfekte resep vir ‘n suksesvolle besigheid.

Broer en suster se talente saam is 'n suksesresep

Ezelle Venter en haar broer Wihan Bosman is beide geseën met talente waarvan die een se talente soos ‘n legkaart by die ander een s’n inpas. Ezelle vertel Wihan het in 2011 die besigheid House of Flowers begin. “Wihan is die stigter en hartklop van House of Flowers en hy is ongelooflik talentvol en kreatief.” Ezelle het verlede jaar die besigheid oorgeneem en sê die liewe Vader het haar gesëen met bestuursvermoë en innovasie. Saam is die broer en suster se talente die perfekte resep vir ‘n suksesvolle besigheid.

Ezelle besit ook twee ander maatskappye wat deel vorm van House of Flowers. “House of Advice, wat advies oor finansiële en versekeringsprodukte, regs- en arbeidsaangeleenthede bied en House of Assistants, wat enige administratiewe dienste lewer aan privaat en korporatiewe kliënte. Die kliënt het dus altyd ‘n toegewyde assistent.” Verder is Ezelle ook die besturende direkteur van FinSide Financial Solutions wat ‘n finansiële diensteverskaffer is.

Wihan het in 2009, as ‘n guns vir een van die begrafnisondernemers op die dorp, begin blomme maak in sy vrye tyd. Die blomme-by het hom behoorlik gesteek en hy het permanent begin blomme rangskik. In 2011 het hy amptelik House of Flowers in Kimberley oopgemaak. “Vir albei my en my broer is dit ‘n passie. Ons liewe Vader het hom geseën met kunstigheid en kreatiwiteit en vir my met bestuursvermoë en innovasie,” sê Ezelle.

Een van House of Flowers se grootste uitdagings is om vars en spesifieke blomme in Kimberley te kry, aangesien die winkel ver van die verskaffers af is. House of Flowers is verantwoordelik vir talle blommerangskikkings in Kimberley. “Funksies, bouquets, kisruikers, geskenkpakkies, spesiale geleenthede – droom dit en ons maak dit.”

Ezelle sê die lekkerste gedeelte van hierdie besigheid is die reuk van die blomme en om hul kliënte se tevrede gesigte te sien wanneer hulle ‘n ruiker ontvang. “Ons raak opgewonde oor elke liewe bestelling of funkskie, want elkeen is uniek op sy eie manier. Die spesiaalste en ook moeilikste funksie was seker die ruikers vir ons pa se begrafnis.”

“Ons is ‘n klein, maar dinamiese span van vyf werkers. Ons is bevoorreg om baie lojale en toegewyde werkers te hê wat deel van ons familie geword het en bydra tot ons sukses.” The House of Flowers se besigste dae is natuurlik op Moedersdag en Valentynsdag. “Die afgelope paar jaar bederf ons kliënte definitief hulle moeders meer op Moedersdag.”

Ezelle sê: “Vrouemaand is ‘n geleentheid om die belangrike rol wat vroue in ons samelewing speel, te onthou, hulle te bemagtig en ook om elke liewe vrou se prestasies te vier.” As Ezelle dink aan ‘n sterk vrou, is dit definitief hulle ma.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *