September 23, 2021

Ouma Grietjie en haar pienk kappie mag nie vergeet word nie

“Hulle het die mense van Garies belowe dat hulle na haar nalatenskap sal kyk en ten minste haar graf vir toeriste sal skoon hou.”

Ouma Grietjie en haar pienk kappie was 'n trots vir die gemeenskap van Garies

Ouma Grietjie en haar pienk kappie was 'n trots vir die gemeenskap van Garies (Foto: Maroela Media en Netwerk24)

NAMAKWALAND- Oorlede Ta Grietjie Adams, beter bekend as Ouma Grietjie van Garies, is bekend vir haar volkswysies, haar rol as gemeenskapsleier en ook as ‘n nasiebouer. Ouma Grietjie was ‘n ikoon in haar geboortedorp en is uitgeken aan haar pienk kappie. ‘n Belofte, wat op ouma Grietjie se begrafnis aan haar en die gemeenskap gemaak is, deur mense met outoriteit, is nie nagekom nie.

Volgens IOL is Ouma Grietjie die 10de Mei 1927 op ‘n plaas naby Garies gebore. Sy was haar lewe lank ‘n huishulp en het later in ‘n ouetehuis op Springbok gaan bly, waar sy in 2014 op die ouderdom van 87 jaar oorlede is.

Ouma Grietjie het in 2004, op die ouderdom van 77, haar eerste musiekalbum vrygestel. Haar naam was bekend aan almal in haar geboortedorp. Sy het in 2006 die Vukani-musiektoekenning, asook die Versoeningstoekenning, vanaf die Instituut vir Geregtigheid en Versoening, ontvang.

Sophia Niewoudt, vriendin van Grietjie, sê dis te danke aan Grietjie dat Garies deur toeriste raakgesien word en daar is steeds mense wat na Garies toe gaan en oor Ouma Grietjie vra.

‘n Belofte wat op Ouma Grietjie se begrafnis gemaak is, is egter nog nie bewaarheid nie. “Daar was mense van regoor Suid-Afrika hier, ministers van die regering en ook dié wat ‘n groot rol in toerisme speel.”

“Hulle het die mense van Garies belowe dat hulle na haar nalatenskap sal kyk en ten minste haar graf vir toeriste sal skoon hou.”

Ouma Grietjie en haar pienk kappie is ‘n trots vir die gemeenskap van Garies

Ouma Grietjie se seun, Hannes Adams, sê daar het niks van hierdie belofte gekom nie. “Hulle het gesê hulle sal ons help met geld en kos, maar hulle het nog niks gedoen nie. Hulle het ook nog nie ‘n grafsteen op my ma se graf gesit nie.”

Niewoudt sê: “As ons munisipaliteit en diegene in die toerismebedryf ons nie kan help om Grietjie se graf mooi te maak nie, want mense vra oor haar graf, belowe ek om steun te werf sodat daar ‘n grafsteen of iets op die graf gesit kan word vir toeriste om na te gaan kyk.”

Niewoudt sê toeriste sal dan onmiddellik weet wie se graf dit is.

Lees ook: ‘n Koppie rooibos per dag vir vrugbaarheid

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *