February 26, 2021

‘n Koppie rooibos per dag vir vrugbaarheid

Navorsers van die Universiteit Stellenbosch het ook rooibos se fito-estrogeniese eienskappe bevestig.

'n Koppie roobos per dag vir vrugbaarheid. Foto: Unsplash

'n Koppie roobos per dag vir vrugbaarheid. Foto: Unsplash

In Februarie, wat as reproduktiewegesondheids-maand erken word, val die kollig op nog ‘n 21ste-eeuse krisis – die saak van vrugbaarheidsyfers.

Vrugbaarheidsvlakke wêreldwyd het tot ‘n historiese laagtepunt gedaal met wetenskaplikes wat voorspel dat byna 10 miljoen paartjies teen 2025 sal sukkel om swanger te raak.

In Suid-Afrika is daar meer as 20% van die paartjies wat sukkel om natuurlik swanger te raak. Dit was nie 20 tot 30 jaar gelede die geval nie, volgens die kundiges.

Kenners skryf die afname toe aan ekonomiese welvaart, verstedeliking en die veranderende modelle van die gesinslewe as die belangrikste faktore.

Hedendaagse paartjies stel uit om kinders te hê as gevolg van verhoogde opvoedkundige en professionele geleenthede, hulle wil rykdom verwerf, of die wêreld verken voordat hulle kinders kry.

As gevolg hiervan kry meer vroue hulle eerste baba in hulle laat twintigs tot vroeë dertigs.

Maar die toenemende lae vrugbaarheidsvlakke is nie net ‘n vroulike probleem nie. Volgens die Infertility Awareness Association of SA (IFAASA) kan ‘n geskatte 40% van onvrugbaarheidskwessies aan mans toegeskryf word, ‘n verdere 40% aan vroue en die oorblywende 20% is ‘n kombinasie van albei.

Dr Crystal Meletiou, ‘n terapeut wat spesialiseer in die ondersteuning van vroue met vrugbaarheid en menopousale uitdagings, sê alhoewel die gevolge van ouderdom op vroulike vrugbaarheid al ‘n geruime tyd bekend is, het meer onlangse studies bevind dat die ouderdom van ‘n manlike maat ook die kans op swangerskap beïnvloed.

By vroue begin vrugbaarheid oor die algemeen in hulle dertigerjare afneem, terwyl dit by mans begin daal vanaf die ouderdom van 40, wanneer spermkwaliteit en beweeglikheid afneem.

Gesondheid speel ook ‘n belangrike rol om swanger te raak.

Meletiou adviseer dat om op te hou rook, alkoholinname te beperk, voldoende rus te kry en te oefen, tesame met die eet van ‘n voedingsgebalanseerde dieet, ryk aan antioksidante, van die natuurlike maniere is waarop jy vrugbaarheid kan help verhoog.

Sy glo ook dat die eienskappe van natuurlike middels ‘n belangrike rol kan speel in die stryd van onvrugbaarheid.

Een so ‘n natuurlike middel kan ons inheemse rooibostee wees.

Adele du Toit, woordvoerder van die SA Rooibos-raad (SARC), verwys na verskeie artikels wat wys hoe rooibos voordelig kan wees vir reproduktiewe gesondheid by mans en vroue.

Sy sê studies bevind spermtelling en beweeglikheid is aansienklik hoër vir rotte op rooi en groen rooibos as gevolg van die hoë antioksidantinhoud, as by enige van die ander teegroepe.

Die tee kan volgens haar ook voordele inhou vir vroue.

Volgens ‘n studie wat in die SA Journal of Botany gepubliseer is, het rooibos die algehele gesondheid van die baarmoeder, endometriale voering en eierstokke by vroulike rotte na 21 dae van verbruik verbeter.

Navorsers van die Universiteit Stellenbosch het ook rooibos se fito-estrogeniese eienskappe bevestig.

Du Toit sê alhoewel baie van hierdie studies by knaagdiere gedoen is, kan rooibos moontlik dieselfde positiewe uitwerking op mense hê. “Soos met alles, is matigheid die belangrikste, maar tot ses koppies rooibos kan daagliks verbruik word.”

Bron: www.womenontop.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: