September 16, 2021

Onvergeetlike ramparty danksy jaagtog agter voertuigdiewe aan

By die Randtfonteinafrit is die boewe weer ingehaal , maar is daarna weereens verloor.

Die bruidspaar het opgedaag op die oomblik dat die boewe in oom Dirk se bakkie wegjaag.

Die bruidspaar het opgedaag op die oomblik dat die boewe in oom Dirk se bakkie wegjaag.

VANDERBIJLPARK. – Volgens Vaalweekblad het familie en vriende van Bennie van der Walt en sy toekomstige bruid Saira-Lee Nel Saterdag die 21ste Augustus by ‘n hoewe in Mullerstuine bymekaargekom. Die familie en vriende het die paartjie ingewag vir hulle ram- en hennepartytjies.

‘n Kind het rapporteer verdagte mans is besig is om aan oom Dirk, een van die gaste, se bakkie te peuter. Die mans het haastig na die bakkie gegaan net om te sien hoe boewe met oom Dirk se Ford Ranger en hul eie Toyota Corolla wegjaag.

Op daardie oomblik daag die bruidspaar op. Dirk en Riaan Hamilton spring in laasgenoemde se Amarok en sit die voertuigdiewe agterna.

Bennie het sy toekomstige bruid afgelaai en sy swaer Hannes en vriend Viaan het saam met hom gery om ook die boewe agterna te sit.

Hulle het die boewe agtervolg op die R57 in Bophelong se rigting. Bennie vertel hulle het die polisie gebel, wat hulle toe blitsvinnig met ‘n polisievoertuig verbind het. “Dit was ‘n gespook om by die gesteelde voertuig by te hou.”

Bennie sê nadat hulle saam met die gesteelde voertuig in Bophelong ingedraai het, het hulle hom na ‘n paar vinnige links-en-regsdraaie bo-oor sypaadjies, verloor. Die polisievoertuig het by hulle aangesluit, waar die een beampte by hulle in Bennie se voertuig geklim het omdat hulle voertuig nie by die gesteelde motor sou kon byhou nie. In die geharwar los hulle per ongeluk vir swaer Hannes net daar tussen niks en nêrens.

Bennie se geliefdes het belowe om vir hom ‘n “onvergeetlike” ramparty te reël, min wetende …

By die Randtfonteinafrit is die boewe weer ingehaal, maar is daarna weereens verloor. Intussen is swaer Hannes darem weer deur swaer Riaan opgelaai. “Danksy vinnige dinkwerk deur konst. B.J. Dlamini en sy kollegas in ‘n ander voertuig kon ons bepaal in watter rigting die boewe gegaan het,” sê Bennie.

“Dit was omtrent ‘n kat-en-muisspeletjie en ons het begin moed verloor.”

“Net toe ons dink dit is verby, oom Dirk se voertuig is finaal weg, ontvang ons ‘n oproep met die goeie nuus dat die diewe vasgetrek is.”

Bennie sê dit het op ‘n skietery uitgeloop waartydens een van die boewe gewond is, maar hy het ontsnap en ‘n ander een is gevang.

Na alles moes die manne eers oom Dirk se voertuig se bande vervang wat raakgeskiet was sodat hulle daarmee na Vereeniging se polisieperseel kon ry. Die polisievoertuig het ook ‘n pap band gehad en dié moes ook eers vervang word voordat Bennie se gaste kon terugkeer na sy ramparty. Die vrouens het deur middel van Whatsapp in kontak met die mans gebly en intussen met die henneparty voortgegaan.

Bennie en sy bruid het Saterdag die 28ste Augustus langs die Vaalrivier getrou.

Lees ook: Boer Niel en Cheréze verlief en verloof

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *