“Any day above ground is a good day!” Dit is Diederick se lewensleuse wat hy elke dag, maak nie saak hoe moeilik nie, probeer volg.
Diederick Korkie (40) is ’n man van vele fasette. Soos ’n ui, lyk hy hard en nukkerig van buite, maar hoe meer jy die lae afskil, kom jy bitter gou agter hierdie is ’n mense-mens. ’n Man met ’n groot passie vir sy familie, die liefde, eerlikheid, die lewe, digkuns, lees, skryf en voel-ervaar-mense.
Diederick is gebore op Cradock en het die grootste deel van sy lewe op De Aar gewoon. Daar is hy geskool en het ook sy loopbaan begin. Hy het in 2008 De Aar se stof finaal van sy voete afgeskud en sy eie pad vorentoe begin uitlê. Hy was vir ’n ruk inwoner van Hopetown, waar hy sy pragtige vrou, Arauna, ontmoet het.
Hulle het kort daarna verhuis na Kimberley waar Diederick sy eie besigheid, DAC Industries, begin het. “Dit is maar een van daai seuns-moet-’n-ambag-hê-bedrywe. Gelukkig hou ek van bou en breek en goed regmaak,” sê hy met ’n tong in die kies, want elektries is sy werk, maar nie sy passie nie.
Diederick en Arauna het twee pragtige kinders – ’n baie intelligente en bekkige dogter van sewe jaar oud en ’n bul van ’n seun wat nege maande oud is.
“Dis nou ’n maklike manier om ’n skip te sink. Of jou sommer net in die mikke te skop, sodat jy bietjie meer op jou knieë rondhang,” is sy opinie oor Covid. Diederick is ‘n man wat ‘n breë kennis het oor die lewe, maar sy passie om ander te help, het begin by sy eie seer.
Die dag toe hy tot die besef kom dat omstandighede hom nie terughou, of noodwendig sy realiteit hoef te wees nie, was die ligpunt-oomblik. Hy het ook begin dink daar is dalk ander wat ook lig nodig het.
Diederick het in sy vrye tyd begin om mense te help, mense wat so ver en diep is in hulle seer dat hulle nie die oplossings raaksien nie, al steek dit hulle in die oog. “Ons het die antwoorde, ons het die oplossings, ons het net soms so ‘n bietjie hulp nodig om dit self te kan sien.” Dit is sy dryfkrag wanneer hy ’n helpende hand uitsteek na die ou voor hom.
Baie dinge in ons deurmekaar wêreld maak hom kwaad, maar dit wat hom woedend maak, is negatiewe mense en daardie Jannie Jammergat-ouens. Daar sal altyd ’n uitkoms wees, ’n einde, ’n les, ’n lig – jy moet net stil sit en dit kan sien.
Sommer gou terwyl jy ’n gesprek voer met hierdie man, kry jy die warm gevoel in jou hart dat hierdie man hier voor jou soveel respek het vir reg en regverdigheid. Jy lei ook af dat Diederick nooit sal gaan lê nie en as hy val, staan hy op, stof sy knieë af en baklei harder terug vir die lewe, want net hy wat Diederick Korkie is, is in beheer van sy eie geluk.



