Dit verg baie van ‘n mens om jou eie besigheid in die middel van ‘n pandemie te begin. Die 32-jarige John Hayes gee die Covid-19-pandemie die skuld dat hy sy besigheid vroeër moes begin as wat hy beplan het. John is in Augustus 2020 by sy werk afgelê en het dadelik skouer aan die wiel gesit en sy besigheid, Garage71, begin.
John sê karre is sy passie en sy besigheid is verantwoordelik vir verstellings en veranderings aan jou motor, die diens van motors sowel as ander pasgemaakte werk, wat 3D-drukwerk en ook staalwerk soos afdakke insluit.
“Dit is mos maar in ‘n man se DNA om te jaag en te bou. Van kinderdae af was dit motorfietse en karre en ek wou self leer hoe alles werk, sodat ek myself kan help. Dit het gegroei tot op daai punt waar ek nou ander kan help.”
John sê dit verg baie van jou om jou eie besigheid te begin en daar is soveel opofferinge. “Die geld wat inkom, gaan meestal net so terug in die besigheid in. So die ekstra geld vir vakansies ensovoorts word alles uitgesit om die besigheid te help groei en van die grond af te kry.”
“Jou tyd is nie meer jou eie nie. Veral in ons huidige ekonomie is dit ekstra moeilik; almal draai hul sente om.”
Alhoewel dit moeilik is, is dit steeds lekker om die vrugte van jou werk te pluk. John vertel Garage71 het sy leefstyl verander. “Ek werk nou elke dag met goed wat ek geniet en wat my passie is.” Hy sê nog ‘n positiewe aspek is die feit dat hy sy eie baas is en hy sien elke dag as ‘n geleentheid om te werk vir dit wat hy wil hê.
John se toekomsplanne vir sy besigheid sluit in om werksgeleenthede te skep en so ook ander mense te help om kos op die tafel te sit. “Ek sal baie graag wil uitbrei tot op ‘n punt waar ek in staat is om werk te verskaf vir ‘n hele klompie mense en hulle weer te kan help om te leer om brood op die tafel te sit.Die einddoel is om herhaaldelik werk van topgehalte te kan bied sodat ons as van die beste in die land gesien kan word.”
John sê een van die slegste dele van jou eie besigheid ewe skielik te moet begin, is die gewoonte van ‘n vaste inkomste wat weg is en ook die wipplank van besige en stil tye. “Jy besef jy kan nie hardop oor jou baas kla nie,” lag hy.
John vertel dat hy sy besigheid aan die gang hou tydens die pandemie deur veelsydig te wees. Hy doen goed vir sy kliënte wat nie sommer deur enigiemand gedoen kan word nie. “Al is dit hoe klein, saam vul dit ‘n groot leemte.”

“Goeie maniere en goeie morele waardes sal jou baie help indien jy ‘n besigheid wil begin. Jou ambisie en vermoë om probleme in geleenthede te omskep, is wat jou oor die wenstreep kan help.”
John se boodskap aan ander jong entrepreneurs is om altyd hul doelwit in die oog te hou. “As jy in die bevoorregte posisie is om jou toerusting en ervaring deeltyds op te bou, is daar geen beter tyd om te begin as dadelik nie. Doen jou navorsing deeglik en bou goeie bande met verskaffers en mense in dieselfde bedryf. Vra die dom vrae, dit is nie so dom as wat jy mag dink nie. Gaan met oop oë en ‘n oopkop in dit in. Hou jou doelwit in die oog.”



