Annarie Grebe (33), of dr. Pretorius, soos meeste mense haar ken, leef haar liefde en passie vir kinders in haar beroep as ’n tandheelkundige uit.
Annarie is in Kimberley, maar het op Oudshoorn grootgeword. Haar ouers was jare gelede albei onderwysers by skole in Kimberley. Annarie het aan die Universiteit van die Wes-Kaap gestudeer.
“Ek het altyd geweet ek wil in die mediese rigting ingaan en ek het op ’n punt gekom wat ek ’n besluit moes maak oor wat ek wou doen. Ek onthou nog goed hoe ek en my pa lysies gesit en maak het oor die pro’s en con’s van ’n dokter of ’n tandarts wees. Ons het saam besluit om in tandheelkunde te studeer, sou die beste opsie vir my wees.”
Annarie is al vir nege jaar getroud met dr. Carlo Grebe (36), ook ’n tandarts. Die paartjie het twee kinders van vyf en twee jaar oud.
Hulle het op universiteit ontmoet toe Annarie in haar eerste jaar was en Carlo in sy vierde jaar.
“Ek is nie een dag spyt oor die beroep nie. Ek geniet dit vreeslik baie. Dit is ’n skeppende werk. Dit is elke dag iets nuut. Ek geniet dit ook om mense mooi te maak.”
Sy vertel alhoewel sy ’n algemene tandarts is, lê haar hart en passie by kinders.
“Daar is niks so lekker soos om met kinders te werk en ’n kind se vertroue te wen nie.”
Haar passie vir kinders gaan verder as net die tandartsstoel. Sy leef ook haar passie uit om by Destiny House te help. Sy help met fondsinsameling en doen ook ondersoeke vir hofsake waarby kinders betrokke is en herstel dan die kinders se tande. Sy help ook ander kinderhuise en plekke van beskerming deur aan vroue en kinders tandheelkundige sorg te verskaf.
“Die vraag is, wat kan jy doen? Waar kan jy betrokke raak? Dit is my manier om my passie uit te lewe en ook n bietjie vir die gemeenskap terug te gee.”
Annarie vertel die beroep is nie altyd so maklik nie en sy kry soms pasiënte wat onbeskof kan wees.
“Ek hanteer altyd almal met respek en probeer altyd ’n probleem so mooi as moontlik uit te sorteer.”
Sy sê sy het ook al alles wat met tandheelkunde kan verkeerd loop, gesien. Sy kan egter goed onder druk werk en weet hoe om kalm in enige situasie te bly.
Annarie is ook lief vir die buitelewe en oefen. Sy draf gereeld en sien dit as haar tyd om met die Here te gesels.
Sy sê ’n sterk vrou is vir haar iemand wat mooi na haarself kyk. Nie net na die uiterlike nie, maar ook na die innerlike.
“Wanneer jy respek en liefde vir jouself en jou liggaam het, veral in ’n tyd waar sosiale media jou ’n wanindruk gee van wat vroue moet wees, sal dit uit jou uitstraal.
“Vroue is definitief tot baie meer in staat as waarvoor hulle krediet kry.”



