Moeg om vir ’n man te wag om vir jou ’n kragprop te vervang? Tydens Vrouemaand wil ons vroue bemagtig. Hier is hoe jy self ’n kragprop kan vervang.
Wat jy gaan nodig hê:
- ’n Driepuntprop
- ’n Sterskroewedraaier
- ’n Platpuntskroewedraaier
- ’n Draadstroper
Hier is hoe jy dit doen:
- Maak eers die skroef los in die middel van die prop deur die sterskroewedraaier te gebruik.
- Verwyder die skroef en plaas dit op ’n veilige plek, sodat jy dit nie verloor nie. Maak die prop oop en sit die deksel aan die een kant.
- Jy sal nou sien dat die prop drie penne het – ’n lang pen bo-op en twee kortes onderaan die prop. Elke pen het ’n skroef aan die kant wat ’n gat in elke pen bedek. Hierdie gate is waarheen jy jou bedrading kan koppel.
- Neem nou die platpuntskroewedraaier en draai die skroewe wat in elke pen is, los. Wees versigtig om die skroewe nie heeltemal los te skroef nie. Draai dit net genoeg af sodat jy duidelik deur die gat in elke pen kan sien.
- Soek die twee plastiekomnhulsels onder in die middel van die prop en verwyder dit. Dit sal dit vir jou makliker maak as jy die bedrading aan die penne moet koppel.
- Gebruik die draadstroper om 1 cm van die plastiek van die 3 drade af te verwyder om die koperkabels binne te ontbloot.
- As jy na die prop kyk, sal jy sien dat daar vir die twee kort penne merke op die prop is wat aandui watter drade met watter pen verbind moet word. As jy die bedrading aan die verkeerde penne koppel, kan dinge lelik verkeerd loop. As jy na die drie drade kyk wat jy gaan verbind, is die algemene reël dat dit in drie verskillende kleure is: blou, bruin en groen met ’n geel streep daarin of soms net groen. Hierdie drie gekleurde drade is baie belangrik vir die aansluiting van die prop. Op die prop is die drie merke wat jy sien, soos volg: waar die sentrale lang pen geleë is, is daar ’n E , aan die linkerkant onderkant van die klein pen is daar ’n N en aan die regterkantse klein pen is daar ’n L. Hierdie 3 letters staan vir AARDE, NEUTRAAL en LEWENDIG.
- Die groen en geel gestreepte draad word verbind met die lang pen in die middelste bokant van die prop. Neem jou geel draad en steek dit in die gat van die pen wat met ’n E gemerk is, en draai dan die skroef vas wat teen die draad sal trek en dit in die pen hou.
- Verbind die bloudraad met die linkerpen wat met ’n N gemerk is en skroef dit vas soos bo genoem.
- Verbind die bruin draad met die regterpen wat met ‘n L gemerk is en skroef dit ook vas soos bo genoem.
- Nadat jy dit gedoen het, kan jy die twee plastiekomhulsels weer in posisie plaas. Dit hou die drade nou veilig vas en voorkom dat dit per ongeluk uit die penne getrek word.
- Jy kan nou die propdeksel weer op die prop sit en die sterskroewedraaier gebruik om weer vas te skroef om die prop toe te maak.
- Jou prop is nou gereed om gebruik te word.



