Telegram-groep vir dr. Vosloo groei vinnig

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Telegram-groep wat ter ondersteuning van die hartchirurg dr. Susan Vosloo, gestig is, het reeds amper 10 000 lede.

Die groep, genaamd “We stand with dr. Vosloo” is gestig nadat ‘n berig Sondag op Netwerk24 verskyn het waar dr. Vosloo veroordeel word oor uitlatings wat sy gemaak het teenoor die Covid-9 inenting.

‘n Lid van die publiek het, luidens Netwerk24, ‘n klag van onprofessionele gedrag teen Vosloo ingedien.

Die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika gaan die beweerde onprofessionele optrede ondersoek en die uitkoms van so ‘n ondersoek kan ‘n waarskuwing, teregwysing, skorsing van praktisering vir ‘n bepaalde tydperk, ‘n boete of selfs die verwydering van die persoon se naam van die beroepsregister tot gevolg hê.

‘n Video op die platform BitChute wys waar Vosloo ‘n vergadering bywoon en sê Covid-19-entstowwe hou meer gevaar as die virus self in. (Kyk die video hier.)

Sy is wyd veroordeel en die Netcare Christaan Barnard-gedenkhospitaal, waar haar praktyk is, het hom van haar stellings gedistansieer.

Lede van die Telegram-groep wat gestig is om Vosloo te verdedig, sê hulle sal geld insamel, sou dit nodig wees, vir regskoste. Die groep deel ook name van instansies, restaurante, hospitaal-groepe en media-platforms wat volgens die groep werknemers “dwing” om ingeënt te word. Dié instansies moet volgens die groep geboikot word.

Die groep deel ook verskeie skryweS van ander dokters en kenners in die veld om Vosloo se sienings te staaf.