Carine Beylefeld (59) is in Kimberley bekend as Minnie Muis of die poppekastannie. Carine is lief daarvoor om kinders te bederf deur vir hulle poppekas te hou en stories te vertel. “Van kleins af het ek gesê dat ek ‘n juffrou wil wees, naweek modelwerk wil doen en vakansie in flieks speel.” Carine is ‘n trotse mamma van ‘n seun en ‘n dogter en sê haar kinders het vir haar elk twee slim kleinkinders gegee.
Wou droom uitleef
“As model en skoonheidskoningin in my jong dae was ek soos enige jong meisie geïnspireerd om my droom uit te leef. As jong mamma 36 jaar gelede, was dit ‘n ideaal om ‘n model juffrou te wees. Ek het baie modevertonings en skoonheidskompetisies aangebied.” Carine is ook bekend vir haar uitstekende fotografie.
Carine is steeds in die vermaaklikheidsbedryf, maar as gevolg van die Covid-19-pandemie is alles nog nie op dreef soos dit moet wees nie.
Volgens Carine is alle vrouens uniek en sterk op hulle eie manier. “Ek dink alle vroue is uniek, het ‘n doel in die lewe, is sterk – fisies. Party doen net meer cross fit as ander. Ek kan net aan die vrou van Spreuke 31 vers 10 tot 31 dink en koning Esther!”
Passie
Carine het ‘n passie vir alles waarvan sy hou en elke dag kom daar net nog meer passies by. Vir haar toekoms wil Carine “elke Godgegewe oomblik voluit lewe in dankbaarheid, en hoop om binnekort weer honderde kindergesiggies te kan laat lag met lekker stories en poppekaspret.”
Sy wil ook graag in die toekoms ‘n oulike koffiewinkel oopmaak vir “coffee lovers, coffee snobs, coffee fans, coffee freaks en coffee chatters“.
Carine se boodskap aan jong dames in vandag se Suid-Afrika is: “Dames moet net hulleself wees. Die meisies van vandag is vir my verskriklik mooi en baie van hulle is baie natuurlik. Ek wil amper sê moenie ‘n rolmodel hê nie, wees net jouself vir dit wat die hemelse Vader jou gemaak het en geskape het. Ek sal die jong meisies van vandag ook aanbeveel om ‘n sjarmekursus by te woon. Soms ervaar ek dat dit miskien net daai grasie is wat party kort.”



