Ellen Greef (59) het vir 35 jaar as ’n huishulp gewerk voordat sy haar werk gelos het om in die bediening in te gaan.
Sy is vir 35 jaar met haar man getroud en hulle huwelik was kinderloos, maar die Here het haar op ander maniere met kinders geseën.
Sy het as 18-jarige by haar eerste werk as huishulp begin. Sy het vir 22 jaar as huishulp by een familie gewerk. Sy moes na die familie se verstandelik gestremde dogter omsien.
“Ek moes haar versorg, bad, aantrek en voer. Die vrou van die huis het ook baie siek geraak met nierversaking en ek het haar ook versorg.”
Word baie siek
Ellen het ook self bitter siek geraak en moes ’n histerektomie kry. Sy het na die operasie in die hospitaal gelê en dokters het nie hoop gehad nie. Hulle het vir haar gesê sy is besig om dood te gaan. Hulle het ook vermoed sy is HIV-positief. Sy het die infeksie vermoedelik deur ’n bloedoortapping opgedoen. Terwyl sy gewag het vir die uitslae, het sy besef niks in haar lewe is in orde nie en dit is in hierdie oomblikke wat sy tot bekering gekom het.
“Ek het met die Here begin praat en dit is net daar wat ek tot redding gekom het. Hy het my aangeraak en my gesond gemaak. Ek het ’n nuwe mens by die hospitaal uitgestap.”
Haar toetse het as HIV-negatief teruggekom.
Ellen het daarna vir 13 jaar by ’n ander familie as huishulp gewerk en het in daardie stadium by die bediening betrokke begin raak. Sy het haar storie van genesing vertel. In hierdie tyd het die Here mense wonderbaarlik aangeraak en genees.
“Hy het hulle genees, want Hy het my genees.”
Die Here sorg
Sy is daarna deur ’n kerk genader om voltyds in die bediening te staan en het uit haar werk bedank. Sy moes ewe skielik sonder ’n salaris klaarkom, maar vertel die Here het op bonatuurlike maniere vir haar gesorg.
“Ek het nooit een aand honger gaan slaap nie.”
Soos in almal se lewe, was daar ook vir haar baie donker tye.
“Ons moes deur die feit werk dat ons nooit kon kinders kry nie. Dit was bitter moeilik. My man het ook in ’n drankverslawing verval. Met gebede en die Here se genade het hy dit oorwin.”
“Ek is wel geseën met soveel kinders. Ek het my broer se kinders grootgemaak nadat hy en sy vrou binne ’n week uit mekaar gesterf het. Ek het ook die voorreg gehad om my broer se dogter se kinders, wat nou nog saam met my leef, groot te maak. Ek is so gebless met soveel kinders. Vroue wat my dogters geword het, met wie ek ‘n wonderlike verhouding het.”
Ellen sê vir haar is ’n sterk vrou iemand wat haar familie, gemeenskap en die Here se werk op die hart dra. Sy glo vroue kan werklik alles doen. Sy het heeldag gewerk, skoongemaak, gekook, kinders versorg, gehelp met huiswerk en steeds tyd gemaak om by die kerk uit te kom.
“Vroue kan als doen met die krag wat die Here vir ons gegee het. Dis net in ’n vrou in. Ek dink dit is wonderlik om vir my mense te kon sorg. Dit beteken ek het ’n vol lewe gehad en het steeds ’n vol lewe. Ek het ’n tevredenheid binne my hart. Baie mense dink die lewe gaan oor geld, maar eintlik is rykdom in verhoudings.”
Bid
Ellen se raad aan moedelose vroue is om te bid.
“Ek was ook moedeloos. Om by die Here te bly en te wees, verander verhoudings. Ek het ook al gevoel ek wil moed opgee, maar ek kan die eer aan die Here gee dat Hy my daardeur gedra het.”



