Grey sluit tydelik oor Covid-19-gevalle

Deel hierdie storie / Share this story

Grey Kollege Sekondêr in Bloemfontein het Donderdag bekendgemaak dat die skool na ‘n skielike styging in Covid-19-gevalle vir eers gaan sluit.

Netwerk24 berig Deon Scheepers, skoolhoof, het gesê alle leerlinge by die skool sal van Maandag af aanlyn onderrig ontvang tot die leerlinge weer terug is by die skool.

Scheepers het Vrydag in ‘n nuusbrief gesê 24 positiewe gevalle van die virus is teen 5 Augustus by die skool aangemeld. 13 van die seuns is in die koshuis.

Die skool se sportwedstryde, ope dae en alle buitemuurse aktiwiteite is onmiddellik gestaak na die skool saam met die departement van onderwys die besluit geneem het om die skool te sluit.

Ouers het nog tot Vrydag om koshuisleerlinge by die koshuis te gaan haal.

Die leerlinge sal hulle rapporte aanlyn ontvang en eers wanneer hulle na die skool terugkeer, ‘n gedrukte kopie daarvan kry.