Chirelda Lombard (35), die ma wat haar pasgebore baba op ‘n vullisterrein gaan gooi het, is vyf jaar tronkstraf opgelê.
Lombard, wat aanvanklik vir moord aangekla is, is gevonnis vir strafbare mansslag, asook die verberging en verswyging van ‘n geboorte.
Sy is ‘n verdere drie jaar tronkstraf opgelê op die tweede aanklag en daar is bevind sy is nie bevoeg om ‘n vuurwapen te besit nie.
Lombard het in September, 2018, haar pasgebore baba op ‘n vullisterrein op Hondeklipbaai, gegooi.
Die rooikop babadogtertjie (later bekend as Gabrielle) is per toeval deur twee plaaslike inwoners hier gevind terwyl hulle na vuurmaakhout gesoek het.
Lombard het dit aanvanklik ontken, maar moes swig toe die lang arm van die gereg intree en haar in hegtenis geneem het. DNS-toetse het later ook bevestig dat Lombard die ma van die kind is.
In haar pleitverklaring op 19 April op Springbok, het sy erken dat sy haar baba gaan “dump” (stort) het.
Tydens haar uitspraak het die landdros gesê dat Lombard ‘n swaar huislike lewe gehad het. Hier was sy aan drankmisbruik blootgestel, Verder het sy in dwelms verval, maar dit gelos. Haar eks-man en gewese skoonpa het haar ook misbruik.
Loftus Badenhorst, haar ouerige pa, was dié keer baie meer bedeesd by die hof as die vorige keer toe hy die media wou intimideer en aanvat. Hy het stip na die landdros se uitspraak geluister. Sy vrou, Rina, moes hom uit die hofsaal lei en ondersteun, omdat hy blykbaar nie die uitspraak – haar tronkstraf- dadelik kon verwerk nie.
Intussen voel die publiek dat sy eerder lank in die tronk moet vrot nadat die “sleutels weggegooi” is. Baie voel dat sy te lig van die “moord” afgekom het.
Haar eks-man het gesê dat hy bly is oor haar straf, want nou is daar minder probleme in sy lewe.
Basil Kock was die aanklaer en Annamarie Theys, haar staatsprokureur.



