Verklarende Studiebybel (1933/1953-vertaling)

Deel hierdie storie / Share this story

Die verklarende notas, temas, tekskritiese inligting en inleidings tot die Bybelboeke van hierdie omvattende Studiebybel in Afrikaans is redaksioneel versorg deur professore Herrie van Rooy (Ou Testament) en Hermie van Zyl (Nuwe Testament), twee gerekende teoloë.

Die studienotas kom uit die gewilde Know the Word Study Bible. Gebruikers het ’n keuse uit verskillende omslae. Die egte leer omslae is te kry in swart, kaneel, wynrooi, karamel en ligroos. Daar is ook ’n hardeblad in groen.

Kort onderwerp-vir-onderwerp artikels bied ’n oorsig oor die hele Skrif. “Hierdie artikels, wat belangrike leringe en groot waarhede bevat, bied ’n nuttige teologiese en praktiese raamwerk waarbinne studente van die Bybel die talle onderdele waaruit God se Woord bestaan, kan verstaan” (VI). Onder die hofie, Liefde, verskyn daar bv. vyf artikels getiteld “Liefhê is ’n werkwoord”, “Hoekom moet ons liefde kies?”, Die uitstorting van God se liefde”, “Die weg van die liefde” en “Ons het lief, want God is liefde”. Boek-vir-boek-inligting, vers-vir-vers-inligting en onderwerp-vir-onderwerp-inligting sorg dat dié Studiebybel ’n aangename lees- en leerervaring bied. Die volledige voetnotas is leersaam en interessant.

Nóg ’n pluspunt is dat die aantekeninge by die teks die leser op hoogte hou “van die variasies tussen die verskillende manuskriptradisies van die Nuwe Testament. Hierdie inligting vorm nie normaalweg deel van Afrikaanse vertalings van die Nuwe Testament nie” (XII). Die “Hoogtepunte in die boek”-afdelings gee aan die leser ’n kort opsomming van wat om van elke Bybelboek te verwag. Die “Bestudeer die Boek”-hofies bied bykomende insig. Natuurlik help die duimdrukke by die leer uitgawes om met gemak heen-en-weer tussen Bybelboeke te navigeer. Kleurkaarte agter in die Studiebybel is ’n ekstra bonus vir die Bybelstudent.

Indien jy ernstig is oor Bybelstudie sal die Verklarende Studiebybel jou daarin lei om Bybelkennis op te doen. Dit is perfek vir naslaanwerk en ook vir persoonlike groei.

Struik Christian Media publiseer die Verklarende Studiebybel. Kry jou kopie hier.