Week oue baba sterf kort na inspuiting by Kimberley-hospitaal

Week oue baba sterf kort na inpuiting by Kimberley-hospitaal

Week oue baba sterf kort na inpuiting by Kimberley-hospitaal

“Ek kan tot nou toe nie glo dat ek haar al die pad van die hospitaal af gedra en gedink het sy slaap, terwyl sy eintlik al dood was nie.”

So vertel Gillian Hunda van haar dogtertjie, Wishes Jonga, wat Maandag skaars twee uur na ‘n inspuiting wat sy by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley ontvang het, dood is.

Wishes was een week en vyf dae oud.

“Ons het haar verlede week Dinsdag hospitaal toe geneem omdat sy nie lekker gevoel het nie. Sy het ook ‘n gelerige infeksie in haar oog gehad en ons was bekommerd dat dit dalk ‘n ernstige ooginfeksie kan wees,” vertel Gillian hartseer.

“Sy het medikasie gekry en ons moes haar Vrydag weer terugneem kliniek toe vir ‘n opvolgbesoek. Die uitslae van haar toetse het toe teruggekom en ons het uitgevind dat sy toe wel ‘n ooginfeksie onder lede het.”

Gillian sê sy moes ‘n inspuiting by die apteek gaan koop en weer na die hospitaal gaan sodat dit vir haar dogter teen die infeksie toegedien kon word.

“By die hospitaal was die regte susters nie aanwesig om haar in te spuit nie,” vertel Gillian. “Ons moes vir ‘n rukkie wag tot daar uiteindelik iemand was wat haar kon inspuit. Wat erg was, was dat die suster nie eers gevra het hoe oud sy is om seker te maak hoeveel ml sy ingespuit moes word nie. Sy is in altwee haar beentjies ingespuit.”

Gillian sê Wishes wou na die inspuiting nie ophou huil nie. “Sy het 13:00 die inspuiting gekry. Sy het heeltyd gehuil en ek het haar geborsvoed. Sy was dan vir ‘n klein rukkie stil, maar dan het sy weer begin huil. Ek het haar voor my vasgemaak om haar so aan die slaap te probeer kry. My man het my om 14:31 gevra hoe dit met haar gaan en ek het vir hom gesê sy wil nie ophou huil nie en dat ons op pad is huis toe.”

“Dit was 14:31 wat ek haar die laaste keer hoor huil het. Toe ek by die huis kom, het ek haar afgehaal en ek het gesien sy is spierwit. Ons het haar probeer wakker maak, maar sy wou nie wakker word nie. Ons het met haar hospitaal toe gejaag, maar hulle het by die hospitaal gesê sy is reeds dood.”

Gillian huil en sê die nadoodse ondersoek toon dat Wishes aan natuurlike oorsake oorlede is. Die polisie kan dus nie die saak verder ondersoek nie.

“Ek glo egter dat dit die inspuiting was wat haar dood veroorsaak het,” sê Giliian.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *