Man verskyn weer vlugtig in hof na klagte van statutêre verkragting

Man verskyn weer vlugtig in die hof na klagtes van statutêre verkragting (Foto: Unsplash)

Man verskyn weer vlugtig in die hof na klagtes van statutêre verkragting (Foto: Unsplash)

‘n Man van Kimberley het vandag vlugtig in die Kimberley-landdroshof verskyn nadat hy vir die statutêre verkragting van ‘n 13-jarige meisie aangekla is.

FiND iT het voorheen berig Nelda Lötter, ondersoekbeampte, het op 2 Julie getuig die meisie het vroeër vanjaar snaakse gedrag begin toon. Sy het selfmoordneigings gehad en is in Optima in Bloemfontein opgeneem.

Die meisie het teenoor ‘n maatskaplike werker en sielkundige gebieg haar ma se voormalige kêrel, met wie sy ’n baie goeie verhouding gehad het, het gemeenskap met haar gehad.

“Haar ma en die beskuldigde was in ‘n verhouding. Hulle het in dieselfde kompleks gewoon, saam gekuier en gebraai.”

Dié verhouding is verbreek.

Die meisie het steeds daarna ’n goeie verhouding met die beskuldigde gehad. Hulle twee het oor en weer gekuier, asook saam televisie gekyk. Hulle het ‘n speelse verhouding gehad. Hy sou haar rondjaag en hulle was in ‘n vertrouensverhouding.

Dit was tydens een van dié kuiers dat hulle glo die eerste keer gemeenskap gehad het.

Die maatskaplike werker het die saak na die polisie verwys en die man is op 26 Maart in hegtenis geneem.

Van sy borgvoorwaardes is dat hy geen kontak met die meisie of haar familielede mag hê nie. Die ma en dogter het intussen verhuis. Hy het aangevoer daar was meer as 30 mense in sy aanhoudingsel en dit was nie ‘n gunstige omgewing tydens die Covid-19-pandemie nie.

Die beskuldigde se identiteit is aan FiND iT bekend, maar hy mag nog nie geïdentifiseer word nie.

Hy is op 2 Julie op R2 000 borgtog vrygelaat en het vandag weer in die hof verskyn. Die saak is tot 10 Augustus uitgestel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *