Hofbevel dwing onderwysowerhede om voedselskema vir leerders in te stel

Deel hierdie storie / Share this story

Equal Education en die beheerliggame van twee Limpopo-skole gaan weer die hof vra om toe te sien dat onderwysowerhede leerders van etes verskaf. Dit kom nadat die hof verlede jaar ‘n bevel aan die onderwysowerhede gegee het om ‘n voedselskema in te stel vir kwalifiseerende leerders, ten spyte daarvan of hulle by die skool of by die huis is. Die hofbevel was glo nooit uitgevoer nie.

Volgens IOL is daar ongeveer 1.5 miljoen leerders in die land wat kwalifiseer vir daaglikse etes by die skool, maar wat dit nie tans kry nie.

Die skole en Equal Education, wat deur Section27 en die Equal Education Law Centre verteenwoordig word, sal die Gautengse hooggeregshof in Pretoria, vra om ‘n bevel teen die departement van basiese onderwys en provinsiale onderwysdepartemente te kry. Dit nadat hulle versuim het om vir meer as ‘n jaar die nasionale skoolvoedingsprogram te impleminteer.

Julia Chaskalson van Section27 sê dat hulle ‘n nuwe bevel sal aanvra wat verklaar dat die onderwysamptenare nie hul grondwetlike verpligtinge nagekom het om daaglikse maaltye aan alle kwalifiserende leerders te voorsien nie. Volgens haar het die onderwysowerhede ook nie voldoen aan die vereiste om planne en moniteringsverslae in te dien soos wat regter Sulet Potterill in Julie verlede jaar beveel het nie.

Die voedselskema vir die leerders moes hul bygestaan het tydens die Covid-19-pandemie

“Die onderwys-LUR’e en minister Angie Motshekga moet die hof redes gee waarom hulle nie beboet of tronk toe gestuur moet word vir die minagting van die hofbevel nie.”

“Ons vra die hof om die nasionale en provinsiale onderwysdepartemente te beveel om nuwe hersiene planne vir die aflewering van die program in te dien en rekening te hou met die voortdurende uitdagings van Covid-19,” sê Chaskalson.

Die aansoekers sal die hof vra om te beveel dat hierdie nuwe planne binne ‘n maand ingedien moet word, en dat die onderwysdepartemente maandelikse opdaterings oor die implementering van die nuwe oplossings by die hof indien, totdat die hof sê dat hulle kan ophou om dit te doen.

Die Covid-19-pandemie het ‘n groot impak op die onderwyssektor en leerders was gedwing om onreëlmatige roosters te volg en nie elke dag skool toe te gaan nie. ‘n Opname toon dat 49% van die 53 skole wat ondervra is se leerders nie kos ontvang het op dae wat hulle by die huis moes bly nie.

Baie van hierdie leerders se ouers sê daar is geweldige emosionele stres by die huise oor kos en dikwels het die broodwinner sy werk verloor.

Nuwe planne vir ‘n voedingskema moes leerders bystaan deur die uitdagende tye van Covid-19.

Lees ook: Die maatskappy aangestel in Britney Spears-voogdyskapsaak onttrek