Afrikaanse fiksie vir Vadersdag – deel 1

Ek glo daarin om boeke as geskenke te gee. Nie net kan jy ’n persoonlike boodskap voorin skryf nie, maar die ontvangers kan nadat hulle die boeke gelees het nog vir baie jare daarmee spog op hulle boekrakke en dit selfs nalaat aan erfgename. Hier onder gee ek voorstelle van Afrikaanse boeke (fiksie) van verskillende genres wat vaders moontlik sal geniet om as Vadersdaggeskenke te ontvang. Hierdie boeke is dan ook almal deur mans geskryf. My voorstelle is nie in volgorde van voorkeur nie.

Donkerdrif (Deon Meyer) – Human en Rousseau

Bennie Griessel-aanhangers raap Donkerdrif entoesiasties op van boekhandelaars se rakke af. Intrige en spanning loop soos stroop deur die boek. Wanneer adjudant-offisier April koelbloedig by die Kaapse Waterfront tereggestel word, ontstaan die vraag of ’n senior SAPD-offisier dalk vir die moord verantwoordelik is. Hou dit moontlik verband met die geheimsinnige briewe wat geskorste Valke-speurders en luitenante Bennie Griessel en Vaughn Cupido ontvang het? Sou gierigheid agter alles sit? As Griessel en Cupido hierdie saak in die geheim oplos, sal dit hulle loopbane red? Hierdie heerlike verhaal deur ’n geliefde meesterverteller het my verbete laat omblaai om die volgende bladsy te lees.

Uittreksel: Kaptein Bennie Griessel hoor die dringende voeteval en die noodkreet; sy Valke-kollega Vusi Ndabeni roep hulle moet kom, hulle moet kom, daar’s ’n transitorooftog, nóú (11).

Meer oor die outeur: Internasionaal bekende en bekroonde skrywer Deon Meyer se publikasies sluit in twaalf misdaadromans (o.m.13 Uur, Spoor, 7 Dae, Kobra, Ikarus, Koors en Prooi. Orion, Proteus en Infanta het die ATKV-prosaprys verwerf en Prooi het weggestap met die ATKV-prys vir spanningsfiksie).

Donkerdrif beslaan 464 bladsye. Kry jou kopie hier.

Die versoeking van Thomas Maas (Chris Karsten) – Human en Rousseau

Ella Neser se opdrag as private speurder is om ’n ondersoek te loods en met bewyse vorendag te kom dat Donna Maas se eggenoot, die sielkundige Thomas Maas, ‘n skelmpie het. Die boek begin weliswaar waar Neser haar finale verslag tik, maar die leser word behendig deur die baie ervare skrywer aan die raai gehou oor watter van die talle verdagtes aandadig is vir moord. Daar is immers ’n kadawer in die water gevind, en dinge is mos selde soos dit lyk. Ek het dit veral geniet dat verskillende karakters se weergawes van gebeure en interessante kantnotas my as leser ywerig op die uitkyk gehad het na leidrade.

Uittreksel: Donna Maas se moontlike reaksie op die verslag pla Ella nie. As moordspeurder – en dus elke slagoffer se gelastigde, gewete en stem – kon sy simpatie voel en wys, en dit was háár plig om te sorg dat reg geskied. Nie meer nie. Nou fokus sy – ongeag die lewende of die dooie – absoluut en onbevange op net een aspek: die waarheid (13).

Meer oor die outeur: Voormalige joernalis en bekroonde skrywer Chris Karsten se debuutroman, Frats, het die ATKV-prosaprys verower. Daarby is sy spanningsromans (Seisoen van sonde, Abel se ontwaking en Anderman se vrou) bekroon met die ATKV-prys vir spanningslektuur.

Die versoeking van Thomas Maas beslaan 384 bladsye. Kry jou kopie hier.

Hartedief (Rudie van Rensburg) – Queillerie

Rooi en Kassie moet reeksmoordenaar Pieter Vermooten vastrek wat Kaapse vroue tydens stormweer grusaam vermink en vermoor. Dit is egter makliker gesê as gedaan, want dié glibberige en skatryk ontsnapte uit ’n psigiatriese inrigting weet hoe om nie ’n digitale spoor te laat nie en het ook geen tekort aan vervalste ID’s nie. Kassie sukkel egter om sy volle aandag by die saak te bepaal, want hy is tot oor sy ore verlief op ’n aantreklike medeseëlversamelaar. Boonop word daar vermoed dat Kassie en Rooi se baas hulle ondersoek in die wiele ry. Die hoogtepunt van dié spanningsverhaal lê vir my in die Naskrif aan die einde, want hier het ek opnuut besef hoe erg geestelik versteurd en uitgeslape die Hartedief is.

Uittreksel: In die kar het haar ontsteltenis omgesit in woede. “Ek gaan nie toelaat dat daardie gespuis my seun weer in hulle greep kry nie. Vanaand kry hulle met my te doen.” Sy het ’n verbete laggie gegee. “En ek het ’n geregsdienaar aan my sy” (176).

Meer oor die outeur: Die bekroonde skrywer Rudie van Rensburg het al tien baie gewilde spanningsverhale op sy kerfstok, nl: Slagyster, Kopskoot, Judaskus, Pirana, Kamikaze, Ys, Medusa, Vloek, Merk en Hartedief. Sy komiese romans, Hans steek die Rubicon oor en Hans gee Herklaas horings, is albei topverkopers. Kamikaze is met die ATKV-prys vir spanningsfiksie bekroon.

Hartedief beslaan 380 bladsye. Kry jou kopie hier.

Skepsel (Willem Anker) – Queillerie

Hierdie verbluffende anderste roman is perfek vir die leser wat teë is vir leesstof wat ’n voorspelbare resep volg. SJ Naudé se opmerking op die voorblad som my leeservaring perfek op: “Skepsel is ’n roman wat ’n mens treiter en verbaas en verontrus en van vreemde dinge leer.” Daar is drie uiteenlopende stories (“Kraken”, “Slimhuis” en “Beendere”) wat afwisselend, genommerd en uit verskillende vertellerperspektiewe aangebied word en dan ook soms oorvleuel. Hoe klink ’n cyborg wat met ’n olietenker trou, die ontdekking van vreemde beendere in ’n yswildernis en ’n tegnologies gevorderde slimhuis wat in die stem van ’n karakter se oorlede ma praat vir jou? Nuuskierig? Lees Skepsel vir eiesoortige leesplesier wat jou sal laat nadink lank nadat jy die boek toegemaak het.

Uittreksel:

Meer oor die outeur: Bekroonde skrywer Willem Anker se debuutverhaal, Siegfried, het die UJ-debuut- en die JanRabie/Rapportprys ingepalm. Buys is met die WA Hofmeyr, UJ-, kykNET-Rapport-, Helgaard Steyn- en Hertzogprys bekroon. Die vertaling daarvan, Red Dog, het op die langlys vir die International Bookerprys gepryk.

Skepsel beslaan 320 bladsye. Kry jou kopie hier.

Deel 2 van my voorstelle van boeke wat vaders graag as geskenke sal wil ontvang, volg binnekort.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *