August 4, 2021

‘Ek is tot vandag toe bang vir ouer mans as gevolg van ‘n sportafrigter’ – leser

Sy weet nie wat hy nou doen nie, maar sy glo hy is steeds by skole betrokke.

'n FiND iT-leser deel haar storie om ander vrouens en jong meisies te inspireer om nie still te bly as iemand iets aan hul doen nie.

'n FiND iT -leser deel haar storie om ander vrouens en jong meisies te inspireer om nie still te bly as iemand iets aan hul doen nie. (Foto: Pixabay)

Dit gebeur so baie, maar jong meisies is te bang om daaroor te praat. Die #metoo-beweging in Amerika het honderde geraamtes uit die kas laat tuimel wat seksuele teistering na vore laat kom het.

In Suid-Afrika neem dit langer. Daar is steeds ‘n stigma wat dit moeilik maak vir vrouens om te praat oor seksuele teistering en dit laat honderde mans daarmee wegkom.

Een FiND iT-leser, Annemarie (21) (*skuilnaam) het haar storie gedeel en sy hoop deur dit te doen, die volgende meisie nié sal stilbly nie.

“Ek was nie ‘n sportiewe mens nie, maar het in gr. 7 agtergekom dis vir my vreeslik lekker om langafstand te hardloop. Ek het besluit om saam met my broer te begin oefen. Hy het ‘n persoonlike sportafrigter gehad, ‘n familievriend en ‘n ‘goeie mens’.

“Hy het geen betaling van my ouers verwag nie en het ons sommer na skool kom optel en na die sportgronde geneem waar talle ander skoolkinders later sou aansluit om te oefen. Ons was altyd vroeg daar en moes gewoonlik so ‘n uur wag voordat enigiemand anders sou opdaag, dan kry ons solank die toerusting reg.”

Dit het begin met ‘n drukkie

Dié dag het die sportafrigter Annemarie en haar broer kom oplaai. “Hy het gesê ek is amper in die hoërskool en moet voor in die bakkie klim, want ek raak nou mooi groot.”

“By die sportgronde het hy my broer en sy vriend na die ander kant van die rugbyveld gestuur om solank van die toerusting op te stel. Dit was vir my snaaks, want dit was nie waar ons gewoonlik geoefen het nie.”

“Hy het gesê ek moet saamloop stoorkamer toe om nog toerusting uit te haal. Daar het hy my omhels in ‘n ‘drukkie’ en gesê hoe mooi ek lyk in my lang Mickey Mouse-hempie. Dit was ‘n kortmou T-hemp wat oor my boude gehang het. Hy het gesê ek gaan moet begin kortbroeke dra, want die lang tights wat ek aan het, gaan laat ek warm kry in die son.”

Annemarie sê sy hande het “gedwaal” en hy het vir haar gesê hy is lief vir haar. “Ek onthou hoe ek gevries het. Ek kon nie beweeg nie. Tot vandag is dit wat gebeur as ek skrik of nie weet wat om in ‘n situasie te doen nie.”

“Ek het nie geweet wat om te doen nie”

“My ma het my geleer as ‘n man my ooit pla of so moet ek hom tussen sy bene skop en hardloop en skree vir hulp, maar die ruimte waarin ek was, het dit nie toegelaat nie.” Annemarie sê sy was bekommerd oor haar jonger boetie wat buite saam met ‘n vriend was. Daar was geen volwassene naby nie. Sy was bang die meneer maak hulle seer en het nie geweet waartoe hy in staat was nie.

“Hierdie man het saam met my ouers gebraai. Hy het saam met sy kinders wegkruipertjie gespeel. Hy was by my 13de verjaarsdagpartytjie.”

Die meneer se foon het gelui. Nog ‘n meisie van Annemarie se ouderdom het daar aangekom. “Hy het omgedraai, sy goed gevat en terwyl hy uitstap, gevra of ek kom. Toe ek oor die veld stap, het hy saggies vir my gesê hy is jammer as hy my ongemaklik laat voel het. Ek het letterlik net aanhou loop.”

“Hy is jammer as ek ongemaklik gevoel het.”

“Ek wou my ma vertel, maar ek kon nie. Vir een of ander rede, met die Here se genade, moes ons van skole verander. Die meneer het ons toe nie meer kom oplaai nie en my broer het sy oefening by die skool begin doen. Ek het nooit weer atletiek gedoen nie.”

Spyt sy het nooit gepraat nie

“By ons (nuwe) skool se sportdag het hy daar aangekom en het my broer R200 gegee om vir my en hom koeldrank te koop. Ek het hom intussen weer raakgeloop. Die laaste keer het ons gelukkig maskers aangehad en ek het gemaak asof ek hom nie ken nie en net reguit verby hom geloop.”

Annemarie sê sy is baie spyt dat sy niemand vertel het nie en wonder of daar ander meisies is wat dieselfde ondervinding met dieselfde man gegaan het.

“Daar is net twee mense teenoor wie ek al ooit oopgemaak het. My ouers sien nog steeds die sportafrigter as ‘n mens met ‘n goeie hart wat altyd almal wil help.”

“Ek kan egter nie help as om hom te sien in elke ouerige man wat ek teëkom nie. As ek destyds net daaroor gepraat het en mense vertel het wat hy gedoen het, sou ek dalk vandag beter oor die saak gevoel het, maar ek voel skuldig en my hart klop en ek raak bewerig as ek terugdink.”

Sy weet nie wat hy nou doen nie, maar sy glo hy is steeds by skole betrokke.

“Ek smeek ander jong meisies om nie stil te bly nie. Al is dit jou woord teen sy woord, jy kan ander meisies red. Jy kan ook jouself help om oor dit te kom en ‘n gesonder geestelike en emosionele lewe te hê.”

Wie jy kan kontak vir hulp?

TEARS Foundation

TEARS Foundation bied toegang tot dienste vir krisisintervensie, voorspraak, berading en voorkomingsopvoeding vir diegene wat geraak word deur gesinsgeweld, seksuele aanranding en seksuele misbruik van kinders.
Gratis SMS-hulplyn: * 134 * 7355 #
Tel: 010 590 5920
E-pos: [email protected]

Lees meer artikels hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *