UPINGTON. – Die departement van onderwys het sy medelye uitgespreek oor die selfdood van ‘n 14-jarige meisie van Hoërskool Upington.
Sers. Omphile Masegela, polisiewoordvoerder op Upington, sê hy kan bevestig Janayda Swartz se liggaam is Sondag by haar huis op Upington gevind.
Sy is op die toneel dood verklaar.
Laerskool Calvinia, waar Swartz skoolgegaan het, het op Facebook hul medelye uitgespreek met die dood van hul oud-leerling.
“Laerskool Calvinia toon ons innige simpatie aan ‘n oud-Calvie, Janayda Swartz, se familie en vriende met haar afsterwe. Jy het altyd ons skool se waardes pragtig uitgeleef! Jy los ‘n groot leemte in ons harte. Baie sterkte aan die familie en naasbestaandes in die moeilike tyd.”
In ‘n ander voorval het die 17-jarige Jason Oosthuizen, wat by Hoërskool Adamantia in Kimberley skoolgegaan het, ook sy eie lewe geneem. Sy liggaam is deur ‘n verbyganger in die veld gevind. Lees meer hier.
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder vir die departement van onderwys, sê sulke gevalle plaas baie druk op ouers en die skoolgemeenskappe om oplettend te wees en leerlinge van die nodige ondersteuning en leiding te voorsien. Hy sê verder dat die departement ook ‘n beroep op leerlinge en jong mense in die algemeen doen om met iemand wat hulle vertrou, ‘n volwassene of ‘n vriend, te praat en hulp te soek.



