Vrou voel ‘beeldskoon’ ten spyte van 45 kg-been

Deel hierdie storie / Share this story

TENNESSEE. – Die 23-jarige Mahogany Geter, wie se een been 45 kg weeg, sê ten spyte van negatiewe kommentaar van mense wat sê dat sy haar been moet laat amputeer, sy “beeldskoon” voel.

Geter, wat in Tennessee woon, is met limfedeem gebore. Dis ‘n toestand wat behels dat vloeistowwe in die liggaam se sagte weefsel aanpak en swelling veroorsaak. Sy is kort na haar geboorte gediagnoseer toe dokters ‘n verskil in die grootte van haar bene gesien het.

Die siekte is ongeneesbaar en Geter het nou belowe dat sy nooit haar been sal laat amputeer nie.

Sy het as kind en selfs nou baie negatiewe kommentaar verdra, maar sê sy voel “beeldskoon van binne en buite” en plaas graag foto’s van haarself op sosiale media.

Geter is die oudste van drie susters. “My ma was so bekommerd toe ek gediagnoseer is, maar ons het saam deur alles gekom. As kind het ek nooit mooi gevoel nie,” sê Geter. “Ek het gedink God het my gestraf. Ek het lelik gevoel, asof ek ‘n natuurfrats was en ek het soveel keer alleen gehuil.”

“Toe het ek besluit dat ek hierdie toestand het omdat ek emosioneel sterk is en dit kan hanteer. Sedertdien het ek geleer om myself te aanvaar en te vier.”

“Ek wil ander inspireer om hulle andersheid te vier. Ek glo nou dat ek beeldskoon van binne én buite is. Ek is trots op wat my liggaam kan doen.”