SPANJE. – ‘n Sewentienjarige meisie is een van drie oorlewendes wat vir 22 dae op ‘n reddingsboot moes oorleef ná ‘n skip wat gesink het 56 ander lewens geëis het.
Die Spaanse lugdiens het op 26 April ‘n boot in die see gewaar en besluit om te gaan ondersoek instel en op drie persone wat nog gelewe het, afgekom.
‘n Helikopter is ingespan om die persone te red.
Daar was 59 passasiers op die skip. Die skip het in sterk winde verstrengel geraak en gesink. Die drie oorlewendes kon dit regkry om betyds in ‘n reddingsbootjie te klim.
Volgens ‘n reddingswerker in ‘n onderhoud met BBC, was die drie persone gedehidreer en in ‘n baie slegte fisiese toestand toe hulle ná 22 dae op die see gevind is.
Aicha, ‘n 17-jarige oorlewende van die Ivoorkus, praat ook in die onderhoud. “Ná twee dae was daar nie meer kos of water op die boot nie,” sê sy. “Op die vierde dag het ons ook nie meer petrol vir die boot gehad nie.”
Die boot het vir die daaropvolgende dae rondgedryf, al verder weg van die land.
“Aan die begin het ons nog gebid. Aan die einde het ons nie meer nie.”

Die meisie, wat as Aicha geïdentifiseer is, moes vir tien dae mediese behandeling ontvang voordat sy genoegsaam herstel het.
Klik hier om na die reddingsvideo te kyk.



