Só maak jy jou hout-snybord behoorlik skoon

Deel hierdie storie / Share this story

’n Hout-snybord is ’n wonderlike ding om in jou kombuis te hê en jy gebruik dit met byna elke ete. Jou snybord kan egter allerhande kieme en bakterieë dra en daarom is dit belangrik dat jy dit op die regte manier skoonmaak.

Spoel dit af na elke gebruik

Kosstukkies sit gewoonlik aan die snybord vas en dit raak moeilik om dit af te kry as dit eers droog word. Om dit dadelik af te spoel na jy dit gebruik het, sal jou dus baie help. Die afspoel moet egter nie ‘n deeglike was vervang nie.

Skrop jou snyplank

Hout is nie ’n soliede oppervlakte nie en daarom is dit nodig om jou snybord te skrop. Gebruik ’n ordentlike skropborsel, growwe sout en seep om jou snybord mee te skrop.

Gebruik bleikmiddel

Wanneer jy jou snybord gebruik het om vleis te sny, laat staan jou bord vir ’n rukkie in water met ’n bietjie bleikmiddel. Op dié manier raak jy van al die bakterieë, bloed en sappe wat moontlik daaraan kan vassit, ontslae.

Gebruik koeksoda vir vlekke

Wanneer jy ’n vlek op jou snybord gewaar, is dit nie net lelik nie, maar kan dit ook kieme bevat. Smeer ’n water-en-koeksodapasta aan die vlek en laat dit vir ’n rukkie staan voor jy dit was.

Gebruik ‘n suurlemoen en growwe sout

Skrop jou snybord met ‘n deurgesnyde suurlemoen en growwe sout om van die bakterieë ontslae te raak.

Gebruik jou skottelgoedwasser

Jy kan jou snybord saam met jou ander skottelgoed in die skottelgoedwasser was. Die hoë watertemperatuur sal klaarspeel met die meeste kieme.