AUSTRALIË. – Maddilyn-Rose Stokes het derdegraadse brandwonde opgedoen en sou herstel het as sy dadelik na die hospitaal geneem is, maar haar ouers het besluit om eerder aanlyn te soek na boererate en het haar brandwonde met aloe vera-gel en verbande behandel.
Gemartel
Sy het ’n afgryslike marteldood aan die hand van haar eie ouers gely omdat sy glo haar doeke vuilgemaak het. Haar pa het haar as straf onder kookwater ingedruk. Die kind het gevolglik brandwonde aan haar rug en tussen haar bene opgedoen.
Die kind was vyf dae lank in pyn voordat sy oorlede is nadat paramedici haar bewusteloos by die huis aangetref en na die hospitaal geneem het, waar sy dood is.
Ouers beken skuld
Haar ouers, Shane David Stokes (33) en Nicole Betty Moore (26), het skuld beken op manslag, marteling en versuim om mediese sorg in te win. Terwyl Stokes tot 11 jaar tronkstraf gevonnis is, is Moore ’n vonnis van nege jaar en ses maande opgelê. Volgens ’n bloedanalise is die dogtertjie antidepressante gegee wat aan Stokes voorgeskryf is in ’n poging om haar ‘stil te maak of te kalmeer’. Daarbenewens het owerhede toiletpapier, matrasse en verbande wat in bloed deurweek was, in die huis gevind.
Wanvoeding
Daar is verder aan die lig gebring dat die gesin ’n ruk voor die voorval vir ’n ander saak onder die radar van die staat was. Die departement van kinderveiligheid het ingegryp toe die kind as baba vir ernstige wanvoeding behandel is.
Lees meer artikels hier.



