Raad met jou maat – Estelle antwoord

Deel hierdie storie / Share this story

Hier is jou kans om ’n anonieme vraag oor jou verhouding te vra. Stuur jou anonieme vraag na [email protected].

Anonieme lesersvraag:

My man het onlangs begin oefen en reg eet. Alles is goed en wel en hy lyk baie goed, maar nou wil hy my forseer om ook straf te begin oefen en gesond te eet. As ek dit nie doen nie, moet ek hoor hoe sleg en lelik ek is. Hoe hy ook ’n vrou met ’n sexy lyfie wil hê. Nou moet ek ook bysê, ek lyk presies soos toe ons ontmoet het. Ek het niks gewig aangesit nie. Ek kyk ordentlik na myself. Ek kan net nie sien hoekom ek nou ’n six pack moet hê vir my man om lief te wees vir my nie. Ek was dan nog altyd genoeg en mooi vir hom, hoekom ewe skielik nie meer nie?

Antwoord:

Almal se liggame verander met die jare en ja, dit is belangrik dat jy na jouself moet kyk, maar ek voel nie dit is reg van jou man om jou te forseer om sekere dinge te verander wat nooit voorheen ’n probleem was nie. As jy wil verander, moet dit vir jouself wees, nie vir enigiemand anders nie.

Sit en praat met hom en vertel hom dat dit jou seermaak dat jy ewe skielik nie meer genoeg is vir hom nie. Vra hom hoekom nie?

Sê ook vir hom dat hy welkom is om aan homself te werk en jy sal ook jou beste doen, maar jy is tevrede met jouself en jy verwag van hom om jou lief te hê soos wat jy is.