SRI LANKA. – ’n Meisie (9) is tydens ’n ritueel waartydens duiwels uitgedryf is aanhoudend geslaan tot sy uiteindelik dood is.
Die polisie in Sri Lanka sê hulle het twee mense in hegtenis geneem in verband met haar dood.
Die twee verdagtes, die vrou wat die ritueel behartig het en die meisie se ma, verskyn Maandag in die hof op aanklag van moord, berig All4Women.
Volgens Ajith Rohana, polisiewoordvoerder, het die meisie se ma geglo haar dogter is deur ’n demoon besete en het haar daarom na ’n eksorsis (demoonuitdrywer) geneem om die demoon uit te dryf.
Rohana sê die vrou het olie aan die meisie se lyf gesmeer en haar toe begin slaan.
Die vrou is glo in die area bekend vir wat sy doen en die polisie ondersoek enige ander moontlike sake van mishandeling.



