OOS-KAAP. -Die streekshof in Port Elizabeth het gister ’n man (44) lewenslange gevangenisstraf opgelê vir die verkragting van sy destydse 14-jarige stiefdogter in April 2019.
Landdros Kenny Cooney het hom verder ses jaar gevonnis vir twee aanklagte van seksuele aanranding omdat hy haar betas het.
Verkrag
Die stiefpa het op 20 en 22 Desember 2018 by hul huis in Motherwell sy stiefdogter betas. Die volgende jaar op 23 April 2019, terwyl die ma by die werk was, het hy haar verkrag.
LEES OOK: Groot storm tref Gauteng
Na die verkragting het sy na haar vriendin se huis gevlug en die stiefpa het haar kom soek. Sy het onder die bed weggekruip en haar vriendin aangesê om vir haar stiefpa te sê dat sy nie daar was nie.
Later die dag het sy na haar biologiese pa gegaan wat ook in Motherwell bly en vir hom vertel wat gebeur het.
Die pa het sy dogter na die polisiekantoor geneem en ’n saak geopen. Die stiefpa is op dieselfde dag in hegtenis geneem.



