February 25, 2021

“Wateroorname is Sol se enigste hoop”

Die Demokratiese Alliansie (DA) sal ’n gemeenskapsgedrewe inisiatief, om beheer van waterbestuur in die Sol Plaatje-munisipaliteit oor te neem, ondersteun.

“Wateroorname is Sol se enigste hoop”

“Wateroorname is Sol se enigste hoop”

KIMBERLEY. – Na jare se probleme met water, riool en dienslewering het die gemeenskap en inwoners van die stad besluit dat dit die beste opsie sal wees om die Sol Plaatje-munisipaliteit te systap en self die dienslewering oor te neem.

Koster is een goeie voorbeeld van hoe dit gedoen word en hulle munisipale dienste word tans deur ‘n belastingbetalersvereniging gehandhaaf.

Die Demokratiese Alliansie (DA) sal ’n gemeenskapsgedrewe inisiatief, om beheer van waterbestuur in die Sol Plaatje-munisipaliteit oor te neem, ondersteun.

“Ongekende vlakke van wanbestuur bewys dat die kwessie nou buite die beheer van die Sol Plaatje-munisipaliteit is, gegewe die instansie se huidige toestand. Dit het vandag weer duidelik geword toe Sol Plaatje sy virtuele raadsvergadering, waarop terugvoering oor die waterkrisis verwag was, gekanselleer het,” sê Philip Vorster, DA-raadslid.

“Terwyl die speaker glo weens rekenaarverwante probleme gesukkel het om aan te meld vir die vergadering, kon die meerderheid raadslede as gevolg van ’n ANC-begrafnis nie die vergadering bywoon nie. Die kansellasie van die vergadering, ongeveer ’n halfuur nadat dit moes begin, toon op ’n  totale miskenning van die chaos wat Sol Plaatje die inwoners van die stad opgelê het.”

Watervloei al minder

Die watervloei van Riverton na die Newton-reservoir daal intussen steeds dag na dag, wat veroorsaak dat water vroeër en vroeër afgesluit word, ver voor die daaglikse geskeduleerde tyd van 14:00 tot 05:00.

Gister het die laaste van die sogenaamde gesuiwerde water by Riverton omstreeks 10:30 deur die pypleiding gevloei. Dit beteken dat Kimberley ongeveer drie en ’n half uur minder geskeduleerde watervoorsiening ontvang het as wat dit moes doen.

Skole word gesluit

“Skole word gedwing om vroeg te sluit, koshuisleerders word huis toe gestuur en van hul opleiding ontneem, ouetehuise sukkel om na hul inwoners om te sien, gesondheidsinstellings sukkel om infeksiebeheer toe te pas en winkels verloor besigheid. Terselfdertyd is daar toenemende druk op rampbestuur en private donateurs om voldoende watervoorsiening via tenkwaens en JoJo-tenks te handhaaf.”

“Dit laat twee opsies oor. Of samewerkende regering moet die bestuur van die munisipaliteit oorneem, of die gemeenskap moet. Gegewe samewerkende regering se swak rekord ten opsigte van munisipaliteite wat onder administrasie geplaas word, laat dit die laasgenoemde opsie oor.”

DA ondersteun gemeenskap

“Die DA sal ’n gemeenskapsgedrewe inisiatief ondersteun, gelei deur kundiges, om beheer oor die waterbestuur in Sol Plaatje oor te neem. Aangesien besprekings aan die gang is, doen ons ’n beroep op alle burgers om in dieselfde rigting te dink, want dit is ons enigste hoop totdat die ANC uitgestem word.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: