February 28, 2021

Vaalrivier-rioolbesoedeling word tot menseregteskending verklaar

VF Plus verwelkom MRK-verslag oor Vaalrivier-rioolbesoedeling

VF Plus verwelkom MRK-verslag oor Vaalrivier-rioolbesoedeling photo credit: enca

Die VF Plus verwelkom die Menseregtekommissie (MRK) se verslag waarin die erge rioolbesoedeling van die Vaalrivier tot ‘n menseregteskending verklaar word, maar die party sal steeds wil sien dat daar veel strenger opgetree word teen amptenare wat oor jare vir hierdie vergryp verantwoordelik was.

Dit volgens Gerda Senekal, VF Plus-raadslid: Emfuleni-plaaslike munisipaliteit.

Gerda Senekal het gesê: “Die party twyfel ook of die regering spoedig R1 miljard sal kan bewillig om die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit se rioolwerke te herstel.”

‘Die MRK het die besoedeling tot ‘n menseregteskending verklaar en hou die Emfuleni-munisipaliteit, die Gautengse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) asook die departement van water en sanitasie verantwoordelik vir die totale ineenstorting van Emfuleni se watersuiweringstelsel.’

‘Die munisipaliteit en departemente het 60 dae om op die verslag te reageer.’

‘Die MRK-verslag beskryf ook breedvoerig die VF Plus se insette wat gelewer is tydens die kommissie se besoek aan Emfuleni.’

‘Die party het in detail die munisipaliteit se onbevoegdheid om verouderde infrastruktuur te vervang en gereelde onderhoudswerk te doen, aan ‘n MRK-paneel beskryf en die gebreke toegeskryf aan die onstabiliteit en wanbestuur van die munisipaliteit. Emfuleni is intussen onder gedeeltelike administrasie geplaas.’

‘Die VF Plus het hom telkemale uitgespreek teen die onreg wat die munisipaliteit aan die sowat 19 miljoen inwoners doen wat van die Vaalwaterstelsel vir drinkwater en ander gebruike afhanklik is.’

‘Die party is dit eens met die MRK dat om voorkomend op te tree, die Vaalrivier en gepaardgaande infrastruktuur kragtens die Wet op Kritieke infrastruktuur tot kritieke infrastruktuur verklaar moet word. So kan herhaling uitgeskakel word en verseker word dat die gebied beskerm word.’

‘Die MRK se aanbeveling dat Emfuleni munisipale amptenare wat nie hul pligte na behore uitvoer nie, dissiplineer of afdank, is in lyn met die party se herhaaldelike voorstelle aan die munisipaliteit en Cogta.’

‘Die tweejaarlange rioolkrisis in Emfuleni het baie mense se lewens nadelig beïnvloed deur riool wat in erwe en strate vloei, ondrinkbare water en meer. Die toeristebedryf sukkel ook weens ‘n daling in getalle omdat gaste nie langs ‘n stinkende rivier wil bly nie.’

‘Die VF Plus sal die verslag noukeurig bestudeer en wag op die munisipaliteit en departemente se reaksie.’

*persverklaring

Lees meer hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: