Nuwe toelatingsbeleid vir skole: “Nog ‘n aanslag op Afrikaanse onderrig”

“Hoe meer tyd verloop, hoe meer probeer die ANC-regering alle sosiale instellings gebruik om sy beeld van transformasie ’n werklikheid te maak. Daardie beeld is dat elke instelling die bevolkingsamestelling van Suid-Afrika moet weerspieël.”

Nuwe toelatingsbeleid vir skole: Nog ‘n aanslag op Afrikaanse onderrig

Nuwe toelatingsbeleid vir skole: Nog ‘n aanslag op Afrikaanse onderrig

Voorgestelde nuwe regulasies vir die toelating van leerders tot openbare skole is onlangs in die staatskoerant bekend gestel. Belanghebbendes word tot 12 Maart kans gegee om daarop te reageer.

 “Hierdie is ’n kwalik bedekte aanslag op die klein aantal Afrikaanse skole wat nog ’n bydrae tot hul gemeenskappe lewer,” sê Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder.

“Hoe meer tyd verloop, hoe meer probeer die ANC-regering alle sosiale instellings gebruik om sy beeld van transformasie ’n werklikheid te maak. Daardie beeld is dat elke instelling die bevolkingsamestelling van Suid-Afrika moet weerspieël.”

 “Volgens dié siening, indien twintig persent van alle skoolkinders Afrikaans is, mag nie twintig persent van alle skole Afrikaans wees nie – eerder twintig persent van elke skool.”

 “Daarteenoor staan die VF Plus se benadering dat elke gemeenskap daarop geregtig is om skole in stand te hou, volgens die waardes en kultuur wat dit verteenwoordig – ook openbare skole.”

 “Die Skolewet van 1996 is ondubbelsinnig hieroor. Dit bevestig die gesag van die Suid-Afrikaanse Grondwet en transformasie oor alle skole in die land, maar skep pertinent openbare skole wat aan die gemeenskap behoort, in teenstelling met “staatskole”.”

 “Terwyl die departement van basiese onderwys tydens die grendelstaat gedwing is om bevoegdhede te delegeer aan skoolbeheerliggame wat dit kon uitoefen, lyk dit of die departement tans poog om sy gesag te herstel.”

 “Sover dit die huidige oproep om kommentaar rakende toelatingsbeleid van skole aangaan, word op twee sake gefokus: Taal en voedingsones vir skole.”

 “Om te verklaar dat ’n skool nie kinders mag weier omdat hulle nie die skool se taal magtig is nie, is om opdrag te gee dat ’n krisis geskep word, waarop die departement volgens sy voorkeure kan reageer. Die voorgestelde beleid kon maar net sowel uitdruklik verklaar het dat Afrikaanse skole kinders wat nie Afrikaans magtig is nie, moet aanvaar. Dat dit die bedoeling is, is duidelik.”

 “Rakende voedingsones, is dit bekend dat skole soos die Afrikaanse Hoër Seunskool en Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria, al geslagte lank ‘n bepaalde kultuurgemeenskap dien. Sommige skole van dié aard is in ‘n gebied geleë waar hul gemeenskap se getalle tans kwyn, maar ouers stuur van regoor die stad en selfs die land hul kinders na sulke tradisieryke skole.”

Om skole se sones af te baken en rigied af te dwing, is om hierdie skole te teiken.

 “In die tussentyd slaag die departement, deur die provinsiale departemente, nie daarin om genoeg skole in groeiende gemeenskappe te bou nie. Boonop is daar hardnekkige berigte dat sogenaamde “township-skole” nie tot hul vermoë gevul is nie, omdat ouers gewoon nie die gehalte van onderrig vertrou nie. Dit lyk of alle ouers wat kan kies, hul kinders stuur na skole waar die departement se invloed die swakste is.”

“Die departement van basiese onderwys sal goeie raad volg as dit liewer onderpresterende skole help om te verbeter, as om voortdurend op Afrikaanse skole wat hulself goed bestuur, te fokus.”

Lees meer artikel hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: